Oom Connie se verhaal gedeel

Tanja Bause
Tanja Bause



Connie Zondagh, 'n boorling van Keetmanshoop, is verlede ­Januarie in die ouderdom van 86 jaar en ná 'n kleurvolle lewe oorlede. Hy was een van 11 leerlinge wat destyds die eerste keer op ­Keetmanshoop matriek geskryf en geslaag het.

“Ná skool wou hy verder gaan leer, maar daar was nie geld nie, so hy het by die bank gaan werk. Met sy salaris het hy deur UNISA kontrakte­reg ­gestudeer. Hy het sy hele lewe lank sy eie kontrakte opgestel,” vertel tannie Koekie.

“Connie was baie musikaal. Hy het op skool leer viool speel. Sondae ná kerk het hy vir my gesê waar die orrelis 'n verkeerde noot gespeel het.”

Connie en Koekie het mekaar ontmoet op Stampriet by die hotel waar al die mense van die omgewing bymekaargekom het.

Hulle is in 1954 in die eg verbind en 'n huwelik van 63 jaar geniet wat tot aan die einde baie sterk was.

“Ek voel hom nog snags teen my. Ek mis hom verskriklik,” sê tannie Koekie terwyl die trane vlak sit.

In 1959 het die egpaar 'n stuk grond in die Kalahari bekom.

“Daar was niks nie – geen huis of boorgat nie. Ons het letterlik met niks en heel onder begin.”



Uitmuntende boer

Connie was nie net 'n uitmuntende boer nie, maar het ook 'n winkel op sy plase en op Stampriet gehad.

In 1997 het 'n dokter gesê Connie ly aan 'n hartkwaal en dat hy liewers Kaap toe moet trek. Die egpaar is toe Somerset-Wes toe. Vier jaar later moes hy hoor hy het nié 'n hartkwaal nie, en is hulle sak en pak terug na Namibië.

“Toe hy uitvind hy is gesond, het hy net gesê 'ons gaan terug plaas toe; ons gaan huis toe' en ons het,” vertel Koekie.

“Op 'n dag het hy vir my gesê hy is nie meer lus vir die boerdery nie en het hy begin boeke skryf.” Connie het tussen 1990 en 2011 nege boeke geskryf en gepubliseer.



skrywer en fotograaf

Hy was nie net 'n skrywer nie, hy het ook die foto's geneem en self die uitleg gedoen.

“Hy het ure lank in die argiewe in Windhoek gaan sit, met 'n magdom mense gesels en navorsing gedoen voordat hy 'n boek begin skryf het. Hy het ook 'n besonderse ­belangstelling in ou grafte gehad en dit graag ­afgeneem. Dan het hy die storie agter die spesifieke graf gaan soek en dit gekry,” vertel tannie Koekie trots.

“Ons het 'n ritueel gehad. Ons het elke oggend elfuur tee gedrink. Ek het sy tee vir hom na die studeer­kamer geneem en voor hom neer­gesit. As hy besig was om te skryf of navorsing te doen, het hy alles om hom vergeet.

“Hy het my gewoonlik so 'n uur later geroep en gevra hoekom gee ek vir hom koue tee!”

Connie het sy eerste twee boeke met die hand geskryf.

“Ek het vir hom 'n tikmasjien vir sy verjaardag gegee en hy het met twee vingers homself leer tik.”

Later het hy homself geleer om op die rekenaar te werk en die uitleg van die boeke en skandering van foto's gedoen.

In 1973 het Connie begin staan­horlosies bou. Sommige van hout, ander van skrootmetaal. Hy het ­altesame 39 van dié horlosies gemaak waarvan sommige nou in Suid-­Afrika is.



Horlosies gemaak

“'n Horlosie uit eikehout is die grootste wat hy gebou het. My seun het dit vir sy 50ste verjaardag ontvang. ­Die maak van horlosies was vir hom 'n ­uitdaging, want dit moes perfek werk,” sê tannie Koekie.

Volgens haar het hy nog nooit 'n staanhorlosie van skrootmetaal gesien nie, en daar en dan besluit hy gaan só een maak. Die horlosie staan vandag nog in die huis.

Connie, wat sy lewe lank viool gespeel het, het op 'n dag in die ­ensiklopedie opgelees en besluit om sy eie viool te maak.

“Die hout wat hy gebruik het was nie geskik daarvoor nie en het ­aanhoudend gebreek en gebars. Hy het 11 probeerslae weggegooi en ek het vir hom gesê ek sou vir hom een koop. Maar Connie het gesê 'ek sal jou wys dat ek hom sal bou'.

Die twaalfde probeerslag het geslaag en hy het uiteindelik twee viole en ­vioolkaste gemaak.”

Die verskillende soorte hout vir die viole het hy op sy broer se plaas in die Zariesberge gaan uitsoek, af­gesaag en gesny.

“Ek mis my man. Ons het saam deur die land en die wêreld gereis. Ons het vir 63 jaar alles saam gedoen. Ons het met niks begin nie, maar Connie was 'n man wat altyd besig moes bly en wat alles wat hy aangepak het, tot die beste van sy vermoë gedoen het. Ons het 'n goeie lewe saam gehad en ek voel soms asof hy nog hier is,” sê tannie Koekie.

Connie Zondagh se boeke word by die Historical Guesthouse op ­Stampriet verkoop.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer