Oom Bushy het glo Covid in hospitaal opgedoen

Rugby
Linkie Bessinger – Eric Reginald Oliver, die gelukbringer legende van die Griekwas, beter bekend as oom Bushy, is dood nadat hy Covid-19 in die hospitaal opgedoen het.
Oliver (88) is Woensdagoggend in die Mediclinic Gariep in Kimberley dood waar hy vroeër vandeesmaand ’n heupoperasie ondergaan het nadat hy geval het.
Volgens Billy Oliver, sy seun, het hy die koronavirussiekte in die hospitaal opgedoen. Die amptelike oorsaak van sy dood is egter nog nie bekend nie.
Huldeblyke het op die Griekwas se ondersteunersblad op Facebook ingestroom.
Louis Bothma skryf: “Baie hartseer, maar ’n mooi nalatenskap van blinde lojaliteit aan dit wat hy in sy hart gedra het: Sy geliefde Griekwas.”
Vir Catherine Angelique Swarts was hy ’n ware heer.
“Hy het ’n mens altyd met soene op die hand gegroet. Jy sal gemis word.”
Netwerk24 het vroeër berig oom Bushy, wat gereeld met sy Griekwa-vlag voor die span uitgedraf het, was haastig om ontslaan te word ná sy operasie.
Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van die Griekwaland-Wes-Rugbyunie, het nadat sy hom in die hospitaal besoek het, vertel “hy wil net weer veld toe kom en voor hardloop met die vlag”.
Voor die Covid-19-pandemie het hy altyd eerste op die veld gehardloop.
Tydens wedstryde was hy langs die veld om spel van naderby te volg.
Van Rooyen sê oom Bushy is die “gom” tussen die Griekwas en die ondersteuners en byna gewilder as die span self.
Hy sou in Desember sy 89ste verjaardag gevier het.
– Netwerk24

FOTO’s
Oom Bushy Olivier, gelukbringer van die Griekwas. Foto Emile Hendricks
Oom Bushy Oliver, Griekwas se grootste ondersteuner, is dood nadat hy Covid-19 in die hospitaal opgedoen het. Foto Griquas Rugby Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer