Ook rykes begin remme aanslaan met beleggings
Sanlam Emerging Markets, waarvan die grootste bydraers Botswana, Namibië en Marokko is, se bedryfswins het met 2% gedaal.
Nellie Brand-Jonker - Selfs die meer welvarendes begin remme aanslaan met hul beleggings.
Die lewensversekeringsgroep Sanlam sê in die ses maande tot einde Junie was dit duidelik dat politieke en beleidsonsekerheid en lae ekonomiese groei na alle verbruikers begin deurwerk. Hoërinkomstegroepe het ook minder geld om te bestee nadat belastingkoerse vanjaar verhoog is.
“Welvarende mense is beslis baie versigtiger ten opsigte van hul beleggings,” sê Heinie Werth, finansiële direkteur van Sanlam.
Versekeraars het dié tendens reeds in die halfjaar tot einde Desember begin waarneem, en dit het in die afgelope halfjaar nog sterker geblyk.
Werth sê beleggers hou hul geld in geldmarkfondse of in die fondse waar dit tans is omdat hulle meer konserwatief is en nie graag nou hul beleggings wil rondskuif nie.
Eise neem toe
Nog ’n tendens is dat mense in moeilike tye meer eis van hul korttermynversekering. Dit blyk uit die syfers van Santam, wat deur Sanlam besit word.
Dit is ook waar vir lewensake, byvoorbeeld vir ongeskiktheidseise.
Werth sê wel Sanlam het nog nie grootskaalse onttrekkings uit beleggings gesien nie. “As mense minder geld het en begin swaarkry, sien ons gewoonlik ’n toename in die verval van polisse. Dit gáán onder druk kom.”
Winsgroei
Sanlam se bedryfswins (waaruit dividende betaal word) het effens met amper 1% tot R4,05 miljard gestyg.
Die verwaterde wesensverdienste het met 19% gedaal omdat dit in die ooreenstemmende ses maande van verlede jaar ’n nieherhalende bedrag vir ’n belastingwysiging ingesluit het.
Sonder die impak van die rand sou die bedryfswins met sowat 5% gestyg het.
In die ooreenstemmende halfjaar was die rand baie swakker. Dié halfjaar was net ná “Nenegate” in Desember 2015, wat groot druk op die rand geplaas het.
“Die (sterker) rand wat ons die afgelope halfjaar gebruik het om ons buitelandse ondernemings se syfers in rand om te skakel, het dus ’n negatiewe impak op die syfers gehad,” sê Werth.
Die katastrofiese brande by Knysna het ’n impak op Santam se resultate gehad weens die toename in eise.
Nog ’n faktor was die JSE wat in die ses maande onder oorsig min beweeg het. Die inkomste uit gelde op batebestuur het dus nie gegroei nie.
Die grootste bydraer tot die groep se bedryfswins is Sanlam Personal Finance.
Dié onderneming se bedryfswins het met 2% tot R2,1 miljard gestyg.
Die tweede grootste bydraer is Sanlam Emerging Markets, waarvan die grootste bydraers Botswana, Namibië en Marokko is. Dié onderneming se bedryfswins het met 2% tot R771 miljoen gedaal.
Ook Sanlam Investments se bedryfswins het met 1% tot R573 miljoen gedaal.
Santam se bedryfswins in die halfjaar het met 13% tot R337 miljoen gedaal.
Ingesluit by Sanlam Personal Finance is sy lewensversekeringsonderneming, waarvan die bedryfswins met ’n gesonde 9% gegroei het as die impak van nuwe sake op koste buite berekening gelaat word.
Die bedryfswins van Glacier wat ook hier ingesluit is, het met 8% toegeneem.
Nuwe sake
In geheel het die nuwe sake wat in die halfjaar geskryf is, gedaal met 4% tot R110 miljard. Sanlam beskryf dit as ’n aanvaarbare prestasie onder moeilike omstandighede.
“Die groep het veral goed gevaar om ’n netto geldinvloei van R19 miljard te bereik gegewe die wesenlike druk op enkelpremiesake.”
Die waarde van die nuwe lewenskontrakte wat geskryf is, is 11% hoër.
In geheel het Sanlam Personal Finance se nuwe sake met 7% gedaal – wat ook as ’n standvastige vertoning te midde van swak beleggersvertroue beskryf is.
Dié daling is ten spyte daarvan dat die nuwe sake van Sanlam Sky, wat op laerinkomstegroepe gerig is en grootliks begrafnispolisse verkoop, met ’n stewige 15% gegroei het.
Die nuwe sake van Sanlam Lewens, wat grootliks op die middelinkomstemark fokus, het met 3% gestyg. Enkelpremies het met 2% gestyg. Herhalende-premie-polisse het met 14% gestyg, grootliks danksy ’n goeie vraag na aftreeannuïteite, wat met 9% gestyg het.
Glacier se nuwe sake het met 10% gedaal omdat beleggingsinvloei weens swakker beleggersvertroue met 16% gedaal het.
Sanlam Beleggings, wat welvaart- en batebestuur insluit, het ’n verlangsaming in invloei van gewone beleggers aangemeld. Sanlam Private Wealth se nuwe invloei van geld het met 25% gedaal, ook weens die impak van lae beleggersvertroue.
Vooruitsig
Sanlam sê die vooruitsigte vir Suid-Afrika vir die res van 2017 en 2018 bly swak.
“Politieke en ekonomiese beleidsonsekerheid sal nie verdwyn voor die ANC se leiersverkiesing in Desember nie,” sê Ian Kirk, uitvoerende hoof.
“Totdat beleidsekerheid terugkeer, gaan sake- en beleggersvertroue laag bly.”
Sanlam sê daar is ’n risiko vir verdere afgraderings van die land se staatskuld, wat tot wisselvalligheid in die aandelemark, rentekoerse en die valutamark gaan lei. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie