Ooggetuie vertel van Dippenaar-ongeluk
Die beskuldigde het glo meer as drie voertuie verbygesteek
Jessica Botes - Een van die eerste mense op die ongelukstoneel waarin ses mense gesterf het, het gister in mnr. Jandré Dippenaar se moordverhoor getuig.
Mnr. Ian Stevenson het in die streekhof op Swakopmund gesê hy, sy vrou, Desiré, en sy stiefdogter, me. Lindsay Wiese, het na ’n uitstappie Swakopmund toe teruggekeer na Hentiesbaai, waar hulle met vakansie was.
“Ons het teruggekeer Hentiesbaai toe in twee voertuie, my vrou het agter my gery,” het Stevenson gesê.
Hy het kort-kort in sy truspieël gekyk om seker te maak sy vrou is nog agter hom.
“Toe ons naby Hentiesbaai was, het ek in my syspieël gekyk en ’n wit FJ Cruiser agter my vrou se voertuig gesien wat haar wou verbysteek. Die voertuig het teen ’n hoë spoed gery, haar verbygesteek en toe ook vir my verbygesteek. Ek kan onthou dat my voertuig, ’n Amarok, geskud het toe die FJ Cruiser my verbygesteek het. Dit was vinnig,” het Stevenson getuig.
Volgens hom het die FJ Cruiser nie gebruik gemaak van die spasie tussen sy en sy vrou se voertuig of die spasie voor sy voertuig om weer aan die regte kant van die pad te kom nie. Hy het glo nóg drie voertuie wat voor Ian se voertuig was, verbygesteek.
“Nadat hy die voertuig voor my verbygesteek het, kon ek die FJ Cruiser nie meer sien nie, omdat dit oor ’n blindehelling verdwyn het. Etlike sekondes later het ek ’n groot wolk swart rook met rooi vlamme wat daaruit borrel gesien,” het Stevenson gesê.
Kort daarna was Stevenson by die ongelukstoneel. Hy het sy voertuig aan die linkerkant van die pad afgetrek en vir sy vrou gesê om verby die ongelukstoneel te ry en huis toe te gaan.
“My vrou en stiefdogter het ’n traumatiese oggend gehad en ek wou hulle nie aan enige verdere trauma blootstel nie. Hulle was die oggend op die strand saam met vriende toe my vrou se beste vriendin se kleinseun op die strand doodgery is,” het hy getuig.
’n Aantal voertuie het reeds by die toneel stilgehou.
“Ek het die FJ Cruiser sien brand. ’n Jong meisie het op die grond gesit waar bystanders na haar omgesien het. Ek het ook ’n man, die beskuldigde, op die grond sien lê waar hy ook deur bystanders gehelp is,” het hy getuig.
Die hitte van die vlamme was so oorweldigend dat Stevenson moes wegbeweeg.
“Ek is na die ander voertuig wat in die ongeluk betrokke was, ’n wit dubbelkajuit Ford Ranger, om hulp te verleen. ’n Man het vir my gevra om hom te help om die voertuig, wat op sy dak gelê het, om te keer sodat ons die meisie wat op die agterste sitplek vasgevang was, kon uithaal.
“Ons het die voertuig omgekeer en die kajuit agter afgeruk maar ons kon nie by die meisie uitkom nie. Die voertuig was so verfrommel aan die sykant en die dak dat dit onmoontlik was om die meisie uit te kry.
“Ek kon niks verder doen nie, so toe het ek maar net vir die nooddienswerkers gewag om op te daag en daarna is ek huis toe,” het Stevenson getuig.
Dié ongeluk het op 29 Desember 2014 sowat 12 km voor Hentiesbaai plaasgevind.
Dippenaar en die 17-jarige me. Antonia Joschko, wat saam met haar gesin uit Duitsland in Namibië op vakansie was, is die enigste oorlewendes.
Sy het haar pa, Markus Walter Helmut Joschko, haar ma, Stephanie Schermuck, en suster Alexandra Marlene, in die ongeluk verloor.
Die drie passasiers wat saam met Dippenaar in die FJ Cruiser was, mee. Dinah Lavinia Pretorius (30) van Gobabis, Charlene Charne Schoombe (24) van Windhoek en mnr. Jan Carel Horn (27), het ook in die ongeluk gesterf.
Dippenaar staan op ’n klag van roekelose en nalatige bestuur met ’n alternatiewe klag van onbedagsame bestuur, ’n klag van bedrog met ’n alternatiewe klag van verskaffing van valse inligting, ’n klag van bestuur sonder ’n rybewys en ses klagte van moord tereg.
Die verhoor word voor landdros Gaynor Poulton voortgesit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie