'Onverklaarde oorlog' op boere knou ekonomie
'Onverklaarde oorlog' op boere knou ekonomie

'Onverklaarde oorlog' op boere knou ekonomie

Landbou kan volgens die TLU nie die “kommunistiese beleid en volslae onbevoegdheid van die ANC” oorkom nie.
Hanlie Stadler



Suid-Afrikaanse boere wíl boer, maar die regering hou aan om “klippe in ons pad te rol”, sê die landbou-organisasie TLU SA in reaksie op die droewige syfers oor ekonomiese groei wat vroeër die week uitgereik is.

TLU SA was voorheen as die Transvaalse Landbou-unie bekend.

Volgens Johan Steyn, TLU SA se streekvoorsitter vir die Oos-Kaap, kan landbou nie die “kommunistiese beleid en volslae onbevoegdheid van die ANC” oorkom nie.

Dié bedryf het in die eerste kwartaal van die jaar met 13,2% gekrimp, die skerpste insinking van enige van die tien bedrywe wat Statistieke Suid-­Afrika meet. Dit het -0,3 van 'n persentasiepunt tot die algehele inkrimping van 3,2% bygedra.

Dit was die grootste kwartaallikse insinking in die ekonomie in tien jaar.

Die landbou dra nagenoeg 2% tot die land se totale bruto binnelandse produk by.

Hoewel die voortslepende droogte in groot dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap 'n rol speel in landbou se probleme, blameer Steyn ook die landelike infrastruktuur wat agteruitgaan. Daarby sê hy daar is 'n “onverklaarde oorlog” op plaaslike boere.

“Terwyl Afrika- en ander lande meeding om ons boere noordwaarts te lok, waardeer die ANC vir seker nie hul bydrae tot voedselsekerheid, landelike stabilisering en groei, en werkskepping nie.”

Produsente is vroeër vanjaar getref deur 'n bek-en-klouseer-epidemie in Limpopo wat tot 'n uitvoerverbod op rooivleis, wol en teeldiere gelei het.

“Die epidemie is die regstreekse gevolge van stelsels vir dieregesondheid wat nie deur bestaans­boere gevolg word nie, sowel as die feit dat diere van buurlande deur ­gehawende grensdrade onbeperkte toegang tot Suid-Afrika het,” sê Steyn.

Wat die droogte betref, sê Steyn, het baie gebiede ses jaar lank geen goeie reën gehad nie en boere se reserwes is uitgeput. “Baie maak op die liefdadigheid van medeboere en ander staat. Ondanks die feit dat droogteverligting in sekere gebiede beskikbaar gemaak is, beteken korrupsie, wandadministrasie, diefstal en die blote onvermoë van ­regeringsamptenare dat die hulp boere nie bereik het nie.” Steyn loof boere wat ondanks die “talle uitdagings en gevare” steeds wêreldklasproduksie lewer.

TLU SA verwys nie in sy verklaring na die skerp styging die afgelope ruk in plaasmoorde en ander plaasaanvalle nie. Volgens AfriForum was daar van­jaar al 184 plaasaanvalle en 20 plaasmoorde.

TLU SA verwys ook nie na die beleid van onteiening sonder vergoeding waarvoor die ANC die Grondwet wil verander nie. Landbou-organisasies beskou dit as 'n groot bron van onsekerheid vir boere.

Die radikale organisasie Black First Land First het vroeër die week gesê hy gaan “wit” grond beset, met die fokus op Wes-Kaap­se wynplase.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer