Ontwortelde pasiu00ebnt smeek vir dienste in die Suide
Ontwortelde pasiu00ebnt smeek vir dienste in die Suide

Ontwortelde pasiënt smeek vir dienste in die Suide

Mandy Rittmann
HUNKERING SKRYF:

Ek is ’n dialise pasiënt wat my lewe in Keetmanshoop moes agterlaat om vir chroniese behandeling permanent Windhoek toe te verhuis. Dit het meegebring dat ek op verskeie maniere swaar gekry het.

Deur hierdie ope brief aan die minister van gesondheid en welsyn, eis ek nederig daadwerklike optrede van ons regering om dialisemasjiene en opgeleide personeel ook na distrikhospitale in die Suide te stuur. Die redes hiervoor is as volg:

Baie mense het, in mý ervaring, in onlangse jare skielik uit die bloute nierklagtes soos nierversaking in die Suide begin ontwikkel. Die oorsake blyk onbekend te wees, alhoewel mense vermoed dat dit met drinkwater iets te make het. Ek is ook nou ’n slagoffer van nierversaking sonder enige geskiedenis daarvan in my familie.

Omdat distrikhospitale in die Suide nie oor dialisemasjiene en -kundiges beskik nie, was ek gedwing om Windhoek toe te verhuis alhoewel sommige sal redeneer dat dit mý gesondheid is en ek dus net moes gaan. Tog het dit my lewe ontwrig en groot leemtes gelaat, asook bykomende uitdagings en probleme.

Ek moes my man en kinders net so agterlaat en my werk van 27 jaar opgee. Skielik het skulde opgehoop en ons het ons huis verloor. Derhalwe het my huisgesin verspreid geraak.

Om hulle so gereeld moontlik te kan sien, is verskriklik uitdagend in terme van uitgawes, gevaarlike hoofpaaie, die ongemaklikheid van lang ritte en die feit dat dit veroorsaak dat ek letterlik siek word tydens ’n rit.

In Windhoek gaan dinge ook maar moeilik. Aan die begin het ek verblyfprobleme ondervind en algemene lewensmiddele het doodeenvoudig onbekombaar geword in die lig van die feit dat ek nie meer kan werk nie, hoe graag ek ook wil. Tot onlangs toe nog was ek aangewese op openbare vervoer (taxi’s) waardeur ek allerhande gepaardgaande senutergende gevare moes trotseer met onbekende taxibestuurders, medepassasiers en verbygaandes aangesien ek soms laatnag van die kliniek af moes kom.

Baie ander medepasiënte is nie so gelukkig soos ek wat ’n ope deur by my niggie gekry het nie en voer ’n sukkelbestaan in ’n groot onbekende stad. Baie van my medepasiënte bly in die hospitaal self en hul besittings word gesteel en daarby word hulle erg stief deur mediese personeel en ander behandel, omdat hulle kwansuis in die pad is.

Mense in my skoene met ’n lae weerstand durf nie in ’n hospitaal te bly waar allerhande kieme gedy nie. Tog het ons geen ander keuse nie.

Oor die algemeen was alle nierpasiënte tot onlangs net in Windhoek behandel. Ek is reg van die begin af by ’n private dialisekliniek behandel weens die feit dat regeringshospitale nie by magte was om almal te akkommodeer nie.

Die groot getalle staatspasiënte plaas geweldige druk op hierdie klinieke, alhoewel die staat vir hierdie dienste betaal, waarvoor ek innig dankbaar is. Maar tog bly daar daai diepe hunkering om by en tussen my eie mense te wees, dus was ek baie opgewonde toe ek in 2017 iewers in ’n koerant gelees het dat die ministerie masjiene en personeel in Julie 2018 na Oshakati, Rundu, Keetmanshoop, Otjiwarongo en elders sou stuur, maar groot was ons ontsteltenis en ontnugtering toe net noordedorpe by hierdie besluit gebaat het.

’n Dokter het my ingelig dat die Suide nie masjiene gekry het omdat daar nie opgeleide spesialiste daar is nie. Waar is die spesialiste dan?

Dié hele vernederende en erg emosionele gedoente het my in depressie, frustrasie en stres laat verval, wat op hul beurt bloeddrukprobleme veroorsaak. Dis genoeg om enigeen tot rasserny te dryf. My medepasiënte bekla dieselfde lot.

In die lig van bogenoemde punte, wil u groot asseblief nie ook na ons kant kyk, om weer ons lewens op dreef te bring deur dialisedienste nader aan ons in die Suide te bring nie? Goot, GROOT asseblief?

En nogmaals dankie vir die onverdiende goeie mediese sorg in Windhoek.

God seën u ryklik.

Kommentaar

Republikein 2026-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer