Ontvoerde SA man voel 'ongemaklik in Burkina Faso'
Ontvoerde SA man voel 'ongemaklik in Burkina Faso'

Ontvoerde SA man voel 'ongemaklik in Burkina Faso'

Cara-Lee Dorfling



Die familie van die Suid-Afrikaner wat die naweek in Burkina Faso in Wes-Afrika verdwyn het, vermoed hy is deur die gevreesde terreurgroep Isis ontvoer.

Christo Bothma (65), wat blykbaar in 'n bestuurspos by 'n myn in die land gewerk het, was glo van plan om oor twee weke huis toe te kom.

Hy is sowat vier maande gelede na Burkina Faso, maar het volgens 'n vriend ongemaklik begin voel.

Sondag tussen 08:00 en 10:00 is Bothma, 'n man van Indië en 'n burger van Burkina Faso blykbaar tussen die Inata-goudmyn en die dorp Djibo, naby die grens met Mali en Niger, ontvoer, het 'n veiligheidsbron aan die nuusagentskap AFP gesê.

Die familie het die nuus Maandag verneem.

“Dit was 'n helse skok. Daar is heeltyd 'n hol kol op my maag. Ek kan nie ophou wonder hoe hanteer hulle hom en waardeur hy alles moet gaan nie,” sê die vriend, wat nie sy naam genoem wil hê nie.

Bothma, wat in Potchefstroom woon, het drie kinders wat reeds hul skoolloopbaan voltooi het.

Hy het glo meer as die helfte van 2017 sonder 'n werk gesit en het die werkgeleentheid in Burkina Faso met ope arms ontvang.

“Hy is goed in sy werk,” sê die vriend.

Bothma se familie het volgens die vriend nog nie regstreekse kommunikasie met die ontvoerders gehad nie, maar die ontvoerders het blykbaar reeds die mynbase in Burkina Faso gekontak.

“Soos ek verstaan, het die ontvoerders (aan die mynbase) gesê hulle sal in kontak wees.”

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Dinsdag in 'n verklaring gesê Suid-Afrikaanse missies in die streek werk met wetstoepassers saam in verband met die saak.

Maar Bothma se familie sê hulle voel hulpeloos, sê die vriend.

“Die regering sê vir ons hulle weet niks nie en daar is agentskappe wat aan die situasie werk. Maar wie is die agentskappe? Waar is hulle en wat doen hulle?

“Almal is bekommerd en wil hom net veilig by die huis hê, maar ons weet nie waar om te begin nie.”

Bothma se ma, Brenda, het Donderdag gesê die regering het haar dogter “mooi laat verstaan” hulle gaan nie 'n sent as losprys betaal nie.

“Ons was by die minister se kantoor. Ons wag nog . . .”

Sy sê die familie is toe gevra om nie met die media te praat nie.

Ndivhuwo Mabaya, die departement se woordvoerder, sê die Suid-Afrikaanse missie in Burkina Faso staan die familie wel by.

“Ons konsulêre dienste koördineer alles wat nodig is. Ons betrokkenheid word deur wetstoepassingsagent­skappe gelei.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer