'Onthou kom uit die bloute, lief'
'Onthou kom uit die bloute, lief'

'Onthou kom uit die bloute, lief'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Twee proppies vol nagmaalwyn in die osbloedrooi art deco-wynglasies. In die oond ’n skaapboud, vóór kerk reeds met speserye ingevryf, kapokaartappels, uie en babawortels oral langs die sye gepak om stadig en deur al die seëninge en psalms en gesange van ’n erediens tot murgsag te prut en bak.
In ouma Piet se blommetjies-opdienbak waarvan die een oor ’n hap uit het van ’n boedeltrek, is die klontjie-witrys, opgepof in oneweredige hopie happies. Die vleissous is tuisgemaak uit die erediens-skaapboud se sappe, kruie en speserye en sluimer in ouma Piet se souskommetjie en maak ’n velletjie terwyl dit afkoel. Sou die gebakte poeding vir nagereg ’n soettand se stroopdroom wees, is die groente blomkoolblommetjies met stadig geklopte witsous en ’n gesmelte kaasbaadjie. Is die poeding se soettand getrek, is dit soet pampoen met suiker en kaneel en ’n stukkie lemoenskil.
Die aansit-Sondageet is gebêre vir die eetkamertafel oorgetrek met ’n eens ’n wit damask-tafeldoek, maar nou deur tyd en bêre tot ’n “vintage” skynsel vergeel. Die eetgerei vir die gastronomiese Sondag-saamwees uit Delft blou borde kom uit die houtkassie met ’n sleutel en fluweelrakkies waarin van lepel tot mes tot vurk sy eie lêplek het.
“Jy sê vir my ek moet vir jou ’n liedjie skryf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n liedjie nie,
Maar wel met elke noot musiek wat iewers begin leef.”
Op die draaitafel was hogere musiek. Niks van sinlose ritmes ondersteun en aangedra deur ’n elektriese klawerbord en doef-doef nie. Immer was die eerste klanke, die inleiding tot bariton, tenoor, sopraan en simfonie Mantovani se “Villa Rides” wat deur die hele huis, verby die blombeddings, oor die voorhekkie die straat afspoel. Ivan Rebroff, Pavarotti, die Weense filharmoniese orkes, die Mormoonse tabernakel- en die Günter Kallmann-koor.
“Jy sê vir my ek moet vir jou ’n storie skryf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n storie nie,
Maar wel met elke keer wanneer ’n sprokie waarheid word.”
Op ’n dag skryf ek ’n storie oor die liedjies en die eet van toe die familietafel nog vol was. En met elke woord skryf ek die prentjie al hoe duideliker in my kop. Skryf ek ’n stamboom se takke wat leeg en blaarloos was, weer vol lote en bloeisels en blare wat swaar hang aan die onthou.
“Jy sê vir my ek moet vir jou ’n prentjie verf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n prentjie nie,
Maar wel met elke keer wanneer die son wegsak in goud.”
Op ’n dag staan ek op ’n stoep van ’n huis waar Mantovani en Pavarotti Sondae op ’n moderne nagemaakte draaitafel draai. Waar osbloedrooi art deco-wynglasies soms met ’n wit magrietjie, soms met hanepoot spog. Waar Sondae se eettafelkos stadig in ’n oondbak pruttel. Waar foto’s van vol familietafels van toeka op die yskas onder wêreldmagnete pryk. Waar die son skuins voor skemer agter die vyeboom in rooigoud wegsak.
“Onthou kom uit die bloute, lief
Onthou kom uit die niet
Jy sal dit nie kan teken nie
Jy sal dit nie kan sien nie
Onthou kom uit jou hart” – Laurika Rauch

Kommentaar

Republikein 2025-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer