Onsekerheid oor lenings aan studente
Die studentehulpfonds onderhandel steeds en kan nie terugvoering aan studente verskaf nie.
Augetto Graig - Die Nasionale Hulpfonds vir Studente (NSFAF) is tans besig om met verskeie belanghebbendes te onderhandel en kan tans nie terugvoering bied aan studente wat vanjaar wil studeer nie.
Dít volgens mnr. Olavi Hamwele, woordvoerder van die NSFAF.
Vrae oor die toekenning van studielenings is gevra ná 'n nuusverklaring van die amptelike opposisie, die PDM, waarin die party beweer die hulpfonds probeer 'n toekomstige skuldkrisis afweer.
Die PDM sê die NSFAF se nuwe praktyk om slegs erkenningsbriewe aan studente uit te reik, is 'n “swak poging om die verantwoordelikheid vir 'n dreigende krisis op die skouers van 'n ander party af te skuif”.
Plaaslike media berig instansies van hoër opleiding en onderrig weier om dié briewe by registrasiepunte te aanvaar.
Die NSFAF het reeds erken die briewe waarborg nie finansiering nie.
Universiteite sê hulle kan studente nie registreer wat nie in staat is om studiefooie te betaal nie.
EKONOMIES VERWOESTEND
“Dit is nie moeilik om te verstaan dat dit vir enige universiteit, plaaslik óf in die buiteland, ekonomies verwoestend sou wees om studente te registreer wat geen bewys het dat hulle vir hul studies kan betaal nie.
“Die PDM veroordeel dus hierdie gedrag van die NSFAF-bestuur en doen 'n beroep op die minister van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, om in oorleg met president Hage Geingob die situasie dringend reg te stel,” skryf mnr. Nico Smit, parlementslid van die opposisie.
Volgens Smit is die NSFAF se besluit om nie 'n soort waarborg uit te reik dat studies betaal sal word nie, 'n bewys daarvan dat hulle eenvoudig nie die vermoë het om lenings toe te staan en tersiêre instellings te betaal nie.
Republikein het van die NSFAF versoek om bekend te maak oor hoeveel geld die fonds tans beskik.
Die koerant wou ook weet hoeveel van 2017 se skuld aan studente en instansies steeds uitstaande is, wanneer die hulpfonds meer geld van die regering verwag, en hoeveel hulle vir vanjaar se lenings benodig.
Me. Hilya Nghiwete, die NSFAF se uitvoerende hoof, het aanvanklik onderneem om dié vrae te beantwoord, maar het later laat weet die fonds sal eers ná konsultasie 'n verklaring uitreik.
Volgens Smit het die NSFAF homself totaal onbevoeg bewys en is dit duidelik “hierdie eksperiment het misluk”.
Die PDM vereis daarom die dringende wysiging van toepaslike wetgewing om voorsiening te maak vir die ontbinding van die hulpfonds, die ontslag van sy leierskap, asook die instelling van departemente binne plaaslike universiteite om openbare lenings en toelae vir tersiêre studies te administreer.
Die president het reeds aan die einde van 2017 sy ongelukkigheid met die fonds uitgespreek en versoek dat die NSFAF weer by die ministerie ingelyf word as 'n departement wat direk onder Kandjii-Murangi se leierskap val.
Namibiese studente het in Oktober betoog omdat verskeie betalings vir 2017 nie gemaak is nie.
In daardie stadium het die regering reeds 98,4%, oftewel N$300 miljoen, van die jaar se begroting aan die fonds toegeken.
Dié betaling was steeds nie genoeg om die hele N$501 miljoen uit N$905 miljoen te dek wat benodig is nie.
Volgens vanjaar se nasionale begrotingsplan gaan slegs N$950 miljoen aan die NSFAF toegeken word - sowat N$12 miljoen minder as verlede jaar.
Ander uitgawes waarvoor die fonds vanjaar voorsiening moet maak, sluit in die betaling van Namic vir hul betaalstelsel, die koste van die aanlyn aansoekstelsel, asook die bou van die NSFAF se nuwe hoofkantoor van N$178 miljoen wat aan China Jiangxi International en sy Namibiese vennoot, Homefin Properties, toegeken is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie