Onsekerheid oor beleid knel NSX

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Duidelike riglyne oor swart ekonomiese bemagtiging, vernamibisering en regulatoriese vereistes is van die uiterste belang om die Namibiese aandelebeurs (NSX) verder te ontwikkel.
Soos in die meeste ander Afrika-markte, is die plaaslike een klein en nie likied nie. Dít kan deur meer keuses en ’n verdieping van die Namibiese mark verander, sê David Nuyoma, voorsitter van die NSX, in die beurs se 2015-jaarverslag. “Dis duidelik meer Namibiese maatskappye moet na die mark kom en hul aandeelhoudingbasis moet vergroot om die ­likwiditeitsprobleem op te los.”
Die NSX gaan egter geen maatskappy dwing om te noteer nie. “As hulle onsekerheid in die regulatoriese omgewing bemerk, is notering ’n moeilike stap om te neem,” sê Nuyoma.
As sodanig is duidelike riglyne aangaande vernamibisering en die Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemag­tiging (NEEEF) van uiterste belang. Onsekerheid oor die regulasies van die pensioenfondswet en die wet op langtermynversekeraars, wat plaaslike batebestuurders en pensioenfondse verplig om ’n sekere persentasie van hul bates op die NSX te belê, duur ook voort, sê hy.
Teen die einde van volgende jaar sal sulke maat­skappye net 10% van hul bates in dubbelgenoteerde aandele kan belê, terwyl die res op die plaaslike indeks van die NSX ’n heenkome sal moet vind. In totaal moet dié maat­skappye 25% van bates onder hul bestuur op die NSX belê.
Die minister van finansies, Calle Schlettwein, het boonop in sy begrotingsrede in Maart aangekondig die regering beoog om die maatskappye binne die volgende drie jaar te verplig om tussen 40% en 50% van totale bates onder hul bestuur plaaslik te belê.
Nuyoma sê “plaaslike produkte” is nodig om die gaping te vul soos wat beleggings in dubbelgenoteerde aandele afneem. Die uitwerking wat dié verpligte afname in sulke aandele in die lang termyn op die NSX gaan hê, kan nie in dié stadium bepaal word nie, sê hy.
Skuldeffekte van die regering het teen die einde van verlede jaar bykans N$28,2 miljard beloop, amper N$10 miljard meer as vyf jaar gelede. Die regering se buitelandse skuldeffekte staan op sowat N$12 miljard en effekte ter waarde van N$750 miljoen is op die JSE uitgereik. “Dit kon beleggings van die NSX weggelei het,” meen Nuyoma.
Die instelling van artikel 29 van die pensioenfondswet wat batebestuurders en pensioenfondse verplig om tussen 1,75% en 3,5% van hul bates in ongenoteerde maatskappye te belê, lok eweneens beleggings wat die NSX weg, sê hy. Die NSX glo die risiko verbonde aan ongenoteerde beleggings is inherent groter as dié van genoteerde beleggings, waar korporatiewe bestuur en blootleggings aan beste praktyke voldoen en deursigtigheid verseker, aldus Nuyoma.
Ondanks uitdagings het die NSX ’n buljaar agter die rug. Bykans N$17,2 miljard se aandele is in totaal in 2015 op die beurs verhandel, sowat 106% meer as in 2014. Meer as N$812,3 miljoen se transaksies is in 2015 in totaal op die plaaslike indeks beklink, meer as ’n halfmiljard dollar of bykans 176,6% méér as die N$293,7 miljoen se sake wat in 2014 in totaal op die plaaslike indeks gedoen is.
Die NSX sê gegewe die vertoning van Namibiese aandele die afgelope dekade, is dit duidelik dat die mark die afgelope tyd meer aktief is en dat ’n vraag na plaaslike aandele bestaan waarin nie voorsien kan word nie. Vanweë regulatoriese vereistes volg die meeste maatskappye ’n benadering van “koop en hou”, wat die likwiditeit van die plaaslike indeks verder verswak.
Die NSX beoog om later vanjaar ’n sentrale sekuriteitebewaarplek (CSD) te implementeer sodat papiersertifikate vir aandele nie langer uitgereik hoef te word nie. Dié elektroniese stelsel beteken dat aandele elektronies van eienaar kan verander en groter internasionale deelname in die plaaslike mark sal bevorder.

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer