Ons Taal: Loop/stap
Ons Taal: Loop/stap

Ons Taal: Loop/stap

Petronella Genis
Emelda het vir my ’n e-pos gestuur om te vra wat nou eintlik die verskil tussen stap en loop is. Toe loop vra sy my amper vas, want dié twee woorde is gedeeltelik sinonieme, maar daar is ook kontekste waarin hulle mekaar glad nie sommerso kan vervang nie. Kyk ek byvoorbeeld in die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, word hardloop as volg verklaar: “baie vinnig vorentoe beweeg deur jou bene vinniger te beweeg as wanneer jy loop” en dan kom die voorbeeldsin: “Moenie stap nie, hardloop!”

Hier kan stap en loop dus beide gebruik word. Trouens, in die HAT word stap verduidelik as “die plasing van een voet voor die ander by loop”.

Maar daar is ook gevalle wanneer slegs een van die twee werk, soos wanneer iemand ‘n stap (of tree) gee, wanneer iets stap vir stap verduidelik word, of in die titel van ‘n sekere boek, Om vry uit te stap, waar loop nie mooi sou loop nie.

Dieselfde geld vir uitdrukkings met “loop” in, soos in die uitdrukking “Loop blaas doppies!”.

Lesers sal saamstem dat ons glad nie sal sê “Stap blaas doppies!” nie.

Ons praat ook van ‘n rivier wat loop, ‘n horlosie wat loop, deur die loop van die dag. Daarteenoor praat ons weer van ‘n staproete, ‘n staptog en stappers.

Lopers is geheel iets anders. Maar selfs belangriker is die onderskeid wat getref word in Nederlands, waar stap stadig is, maar loop baie vinnig (soos in ons hardloop).

In Afrikaans stap en loop ons dus baie meer eenders as in Nederlands.

Nog ‘n besonderse gebruik van die woord loop in Afrikaans, is in uitdrukkings soos “toe loop staan en raak hy mos verlief”.

Ek het nou so op loop gegaan, dat ek spesiaal meer spasie sal moet loop vra, maar nou ja, waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Volgende keer stap ons miskien nog ‘n entjie verder hiermee.

Mooiloop!

Petronella F. Genis

[email protected]

Vakgroep Afrikaans

Unam

Kommentaar

Republikein 2026-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer