Ons Taal: Lockdown
Ons Taal: Lockdown

Ons Taal: Lockdown

Herman Beyer
Wat is die Afrikaanse ekwivalent vir lockdown? Dit is “algehele afsondering”. Die Khomas- en Erongostreke is van vandag af in algehele afsondering ten einde die verspreiding van die koronavirus te beperk. Die naam van hierdie moeilikheidmaker kan ons in Afrikaans met ’n c of met ’n k skryf. Die rede hiervoor, volgens afrikaans-vandag.co.za, is dat die virus onder ’n elektronmikroskoop soos ’n blomkrans lyk. Hierdie voorkoms besorg aan hom die naam corona uit Latyn, via Grieks korone, wat “kroon” of “stralekrans” beteken. Dit is dus nie ’n naam wat uit Engels geneem is nie en behoort in Standaardafrikaans dan ook nie as “ki-róú-na” uitgespreek te word nie, maar eerder as “kô-róó-na”.

Die woord “koronavirus” is ’n soortnaam en word daarom nie met ’n hoofletter gespel nie, omdat daar verskillende soorte koronavirusse is, net soos daar byvoorbeeld verskillende soorte potlode is. Die spesifieke soort koronavirus waarmee die wêreld tans worstel, is ’n nuwe soort koronavirus; daarom word dit in Engels die novel coronavirus genoem (novel = nuut). Hierdie spesifieke nuwe koronavirus is amptelik “Covid-19” gedoop, wat ’n akroniem is vir coronavirus disease 2019.

Ons hoop die algeheleafsonderingsmaatreëls (ja, een woord) wat vandag van krag word, sal ons help om die virus se verspreiding te bekamp. Terloops, die woord “bekamp” het niks te doen daarmee om ’n draad rondom die virus te span sodat dit in ’n kamp is nie. Dis ’n suiwer Afrikaanse afleiding van die Nederlandse werkwoord kampen uit Middeleeuse Nederlands en Germaans, wat beteken “om ’n (twee)stryd te voer”. Ons is dus nie besig om ’n kamp te span nie, maar om ’n stryd te voer! Sterkte aan ons almal!

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer