Ons taal
Rekenaartaal
Hallo Ma
Ma het probleme gehad wat ek nie gehad het nie. Ma moes soggens ver skooltoe stap, en smiddae dan weer ver na die buurplaas toe vir klavierlesse. Daardie dinge het ek nie geken nie. Ek is sommer die gang af geboender om my klavierlesse te oefen.
Maar ek is gedompel in ’n ander situasie wat my karakter toets. Die rekenaar. En dinge is net nie meer dieselfde nie. ’n Gogga is nie meer ’n grillerige klein verskynsel wat êrens rondskarrel nie. Dis ’n fout. ’n Gogga is ’n fout. En as jou rekenaar ’n gogga het, word hy geskaak. En as dit gebeur, staar hy met so ’n dooie gesig na jou. Jy kan maar kliek en praat. Daar gebeur fniks. (Dankie Herman!) En dit terwyl hy outobetroubaar behoort te wees. Dan moet jy hom selflaai. (Die Engelse woord boot voel vir my meer reg, want dit is wat ek hom dan wil aandoen. Ek wil hom boot!) Met my boot.
As Ma gedink het spitsverkeer is ’n straatwoord, moet Ma weer dink. As dit spitsverkeer is, is die internet so besig, en daar is geen alternatiewe roete nie. En dan staan jy in die kontrolery. Ek het eers gewonder watter lollery is dit dié, en toe is dit nie daardie ry nie, maar ’n ry waarin jy staan – of sit!
En waarmee dink my blikbrein? Met ’n ponsbrokkie, ’n vlokkie of ’n tjip. En dit alles vanweë die vlokkietegnologie.
Ma, ’n mens kan tog nie so iets ernstig opneem nie? Dit klink meer soos ontbytpap!
Maar ek het respek vir die swart boksie van my. Want hy het ’n geheue. En dit is meer as wat ek kan sê. Hy het ’n werklike geheue (met ander woorde, hy lieg nie). Dan het hy ook ’n bygevoegde geheue (dit kom ooreen met wat ek ’n lysie noem), en ’n buffergeheue. Wat de ...?
Ma, wie help Ma dink daar waar Ma bly?
Baai my Ma
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie