Ons taal
Abbalekkerte
Ons het in Afrikaans ’n pragtige uitdrukking wat ons kan gebruik wanneer iemand net genoeg sê om jou nuuskierig te maak, maar nie genoeg om jou denke se dors te les nie: As jy A sê, moet jy ook B sê.
Dit kan ook gebruik word om te verwys daarna dat jy moet klaar maak waarmee jy begin het. Maar ons kan ook sê A-B-B-A...abba. Somtyds word Abba as ’n eienaam gebruik om te verwys na ons liefdevolle Vader wat ons deur die storms van die lewe dra. En in ons Namibiese samelewing ken ons abbadra baie goed.
Ons het as kinders mekaar probeer abba, ons pa’s moes ons deur die dorings abba, en ek sal nooit vergeet hoe liefste Meme Johanna my pap ou babatjies op haar rug geabba het wanneer ek moes gaan werk nie.
Hulle het salig teen haar rug geslaap in die abbasak (of soos sy dit genoem het, die abbacross) wat sy nog met die hand gemaak het. Ons almal ken ook die pragtige woord abbawa vir die groot vragmotor wat die klomp motors op sy bak abba.
Maar ek het hierdie week nog ’n oulike abbawoord gehoor. Dit was eintlik as gevolg van ’n misverstand, want ek het gepraat van die babalemoentjie, dis nou daardie piepklein lemoentjie wat binne in ’n ander lemoen begin groei. My vriend het my egter verkeerd gehoor, en sê toe: “Dis nou ’n mooi woord! ’n Abbalemoentjie.” Dis wel nie wat ek gesê het nie, maar ek is geneig om met hom saam te stem, en siedaar ’n nuwe woordlekkerte. Hoe heerlik soepel is ons moedertaal tog!
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie