Ons taal
On-woorde
Hallo Ma
Ek is bekommerd. Ek is bekommerd oor die woord, want sy word losgemaak van die mens. (Ja, kom ons maak die woord vroulik. En nou kan die mans hulle holruggeryde grappie inkry oor vrouens wat gewoonlik diegene is wat woorde gebruik.) Dis goed so. Maar feit bly staan: die woord is dood.
Ja Ma, ek het geweet dit gaan Ma raak . . . ou woordsoldaat! Ma sê dat mens ook tog ’n woord is. Maar Ma, mens is ook ’n entiteit. ’n Léwende een. Een wat deesdae agter maskers entiteitlik on- (en ont-)menslik woorde moet gebruik en hulle dan moet degradeer tot nie-menslike kodes, bloot fluisteringe wat soms skree-entiteite word om die ontvanger in staat te stel om die kode te ontsyfer. Én sodoende verder te ontwoord. Woorde word Covid-lik van die gesig af weggedraai. Selfs in ’n mens-entiteitlike omhelsing waai fluisteringe soos ek het jou lief of ek het jou só gemis wég van die gesig af in die teenoorgestelde windrigting.
Woorde word skakels, ón-woorde wat glad nie soos woorde lyk nie, en beswaarlik oorgeskryf kan word, en liewer ge-copy en paste moet word, ’n skakel wat allerlei tekens en hiërogliewe bevat wat hulle van die mens-entiteit vervreem.
Ja Ma, ek klink bitterlik verbitterd. En ja Ma, ek weet – soos Ma dalk sou sê – dis nie my styl nie. En Ma, ek wil dit ook nie my styl maak of laat word nie. Ek móét aanpas. Nadat ek loshande en sorgeloos vir 64 jaar lank gewoord het, moet ek nou my woorde tel. Omdat hulle kosbaar is. Omdat hulle my terugneem na tye toe hulle nog as koesteringe warm uit die hart en die mond gekom het, ? teenvoeter vir ’n koue ongenaakbare wêreld van die ampersand, die hash- en dollarteken.
Baai my liewe Ma (en mag hierdie baai nooit ’n wuiwende hand-ikoon word nie)
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie