Ons taal
Ons taal

Ons taal

Sosiale persoonlikheid vs sosiale afstand
Petronella Genis
Deesdae hoor ons male sonder tal dat ons sosiale afstand moet handhaaf. Vir iemand met ’n sosiale persoonlikheid soos myne is dit bitter moeilik om hieraan gewoond te raak. En toe ek dit vanoggend weer hoor, bars daar ’n betoog oor my lippe. Daar is niks sosiaals aan hierdie sogenaamde sosiale afstand nie! En toe tref dit my – dis sowaar so! Hulle moet dit veel eerder asosiale afstand noem, of soos iemand anders in die geselskap toe voorstel: onmenslike afstand. Toe hardloop ek oudergewoonte na my woordeboek toe. Die woord sosiale het twee betekenisse. Die een is gesellig saamlewend en die ander is wat betrekking het op die maatskappy, op mense wat saamleef in ’n groep. Nou ja, dalk is ons veronderstel om gesellig saam te leef in groepies van een. Dit laat my dink aan een van ons onderwysers wat wanneer ons rye slordig was, gesê het: “Stap asseblief in ’n reguit bondel!” Maar selfs reguit bondels is deesdae ontoelaatbaar. Ek loer wat sê die HAT oor die woord asosiaal: vyandig of onbetrokke teenoor die samelewing. Ons is beslis nie vyandig teenoor ons samelewing nie, maar met die reëling dat ons elkeen agter ’n snoethoed moet wegkruip, is ons beslis minder betrokke as voorheen. Ek verlang innig na die spontane breë glimlag waarmee ons as Namibiërs vriend en vreemdeling sou groet.

Petronella F Genis

[email protected]

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer