Ons taal
Ons taal

Ons taal

Kassie-glasie-geval
Sanet de Waal
Die korrekte verkleiningsvorm van die woord “kas” is “kassie”, want “kas” word met ’n kort “a”-vokaal uitgespreek, daarom verdubbel die konsonantletter s in die verkleiningsvorm. Nou, waarom is die verkleiningsvorm van die woord “glas” dan nie “glassie” nie, maar “glasie”, want dieselfde patroon geld mos? Is dit maar net ’n uitsondering op die reël? Daar is wel verskynsels in Afrikaans (soos in sekerlik alle tale) wat slegs deur “Dit is nou maar hoe dit is” verklaar kan word, want menslike taal is nie masjientaal nie; ons is immers nie robotte (of is dit robots?) nie. Die kassie-glasie-geval is egter nie een van hulle nie. Ons kan dit wel taalkundig verklaar, maar dit vereis ’n effense breër perspektief op die aard van taal en die Afrikaanse spelreëls. Hier is twee hoër beginsels aan die werk: In die eerste plek is die geskrewe vorm van ’n taal niks meer nie as ’n weergawe van die gesproke vorm van daardie taal. Alle natuurlike menslike tale kom voor in die gesproke vorm, maar nie almal het ’n geskrewe vorm nie. Daar is geen (lewende) natuurlike menslike taal wat slegs in geskrewe vorm bestaan nie. Die tweede beginsel sluit hierby aan: In die Afrikaanse spelling geld daar ’n grondbeginsel (een van drie) dat ons spel soos ons praat (hoewel daar uitsonderings is!). Omdat niemand “glassie” sê nie, word “glas” nié volgens die betrokke spelreël tot “glassie” verklein nie, maar wel tot “glasie”, juis omdat almal “glasie” sê. Hier word die betrokke spelreël deur die hoër beginsels opgehef, daarom lyk dit soos ’n uitsondering.

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer