Ons taal
‘Weskus’
Hoeveel kuste het Namibië? Ek het onlangs nogmaals hieroor gewonder toe daar in ’n weervoorspelling oor die radio van die weer aan die “weskus” gepraat is. As daar ’n weskus is, is daar dan ook ’n noordkus en ’n suidkus, en wat van ’n ooskus? Ek weet ons lees en hoor deesdae dat klimaatsverandering vinniger aan die gebeur is as ooit tevore, maar ek moet erken dat die laaste maal dat ek na ’n kaart van Namibië gekyk het, was ons nog nie ’n eiland of selfs ’n skiereiland nie. So ver ek weet, het Namibië steeds net een kus. Miskien moet ek ’n slag in die ander rigtings ry en gaan kyk, maar dan sal ek ook graag wil verneem hoe die weer daar is om darem met die regte klere daar aan te kom. En as daar nie ander kuste is nie, waarom praat van die weskus en nie net van die kus nie? Almal wat deur graad 3 is, weet dat die Namibiese kus links op die kaart sit (as noord bo is), met ander woorde in die weste. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink dis nogal oorbodig om ons elke dag aan so ’n triviale feit te wil herinner. Dis soos om in dieselfde weervoorspelling te sê hoe laat sonsopkoms in die ooste sal wees. Uiteraard strek die kus vanaf die suidgrens tot die noordgrens van Namibië, sodat dit nuttig kan wees om te praat van die suidelike kus (nié suidkus nie), die sentrale kus en die noordelike kus (nié noordkus nie). Ek vermoed die woord “weskus” is ’n koloniale relik uit die tyd toe die kus ’n verlenging van die weskus van Suid-Afrika was. In Namibië is dié woord logies niksseggend.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie