Ons Taal
Ons Taal

Ons Taal

Karin Eloff
Ek het voorheen reeds oor die sogenaamde dubbele negatief in Afrikaans gesels. Dit verwys na die feit dat die woordjie nie dubbeld in ontkennende sinne kan voorkom, bv. “Ek weet nie wanneer ons vertrek nie.” Hierdie keer wil ek raak aan die verskynsel van dubbele ontkenning. Dit is nie dieselfde ding as die dubbele negatief nie. Terwyl die dubbele negatief volledig “korrek” in Afrikaans is (hoewel dit nie in die ander Germaanse tale voorkom nie), kan dubbele ontkenning as 'n fout be­skou word. Die verskynsel van dubbele ontkenning is nie tot Afrikaans beperk nie. Dink maar aan 'n Engelse uiting soos “I ain't doin' nothin'”. Dis 'n dialektiese of informele variant, wat 'n dubbele ontkenning bevat, van “I am not doing anything.” In die kontekste waarin die informele variant gepas is, is die dubbele ontkenning nie 'n fout nie, maar in Standaard­engels sal dit wel as 'n fout beskou word. 'n Vergelykbare konstruksie in Afrikaans is: “Ek doen g'n niks nie.” Die dubbele ontkenning as fout kom egter ook in Standaardafrikaans voor, en veral onder meer in kombinasie met voegwoorde soos voordat. Die volgende sin klink op die oog af goed: “Jy sal nie weet wat roomys is voordat jy nie ons roomys probeer het nie,” of andersom: “Voordat jy nie ons roomys probeer het nie, sal jy nie weet wat roomys is nie.” As ons mooi na hierdie sinne kyk, sê hulle eintlik: “Jy sal weet wat roomys is voordat jy ons roomys probeer” – presies die teenoorgestelde van wat hulle wíl sê. Kyk mooi.



Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer