Ons taal
Ons taal

Ons taal

Gedig vir my broer
Chrisna Beuke-Muir
Hallo Ma

Heng Ma, ons het lank nie gepraat nie, en ek het ons gereelde geselsies gemis. Maar intussentyd was daar vreugde in Ma-hulle se geweste en bittere hartseer hier by ons.

Ma, het Ma nie dalk my broer gesien nie? Ja, vir Attie? En was die weersiens met jou seun goed? Het hy hom darem opgedres en sy baard afgeskeer vir die blye okkasie? Hier het hy net met high days en holidays sy kort jeanbroek en stewels vir langbroek en skoene verruil.

Ma, gee tog vir hom hierdie gedig. Ek was nie seker of hy mooi gehoor het toe ek dit vir hom laasweek tydens die roudiens opgesê het nie.

Talm nie (Chrisna Swart)

(Vir Adriaan Swart, 23 Julie 2020)

Ek het jou van ver af sien aankom

deur twee loergate in my skedel.

Soms het jy eers stilgestaan

om jou selfoon te beantwoord:

’n belangrike oproep wat jy

beswaarlik kon ignoreer.



Ek ken jou al lank;

in die helfte van my boeke

staan jou naam geskrywe.

Maar nou sien ek jou by die tuinhekkie,

en voordat jy nog kon aanklop,

maak ek die deur vir jou oop.

In die gang af, eerste deur na regs

wag iemand -

angstig om jou te ontmoet.

Haal jou masker af

en hang jou mantel

aan die kapstok op.

Moenie omkyk nie,

gaan gerus binne.

Dood,

huiwer nie

jy’s welkom.



Dr. Chrisna Beuke-Muir

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer