Ons taal
In die bresse tree
Onthou julle, ons het ’n paar weke gelede gesels oor Een voet in die Bybel, die wonderlike boek wat onlangs verskyn het, waarin Gert Janse van Resnburg ’n allemintige 800 Afrikaanse spreekwoorde koppel aan 2 000 skrifverwysings? Wel, hierdie week het byna 50 Namibiërs die boek ontvang. En natuurlik wil ek sommer dadelik ‘n juweeltjie uit daardie skatkis met ons lesers deel. Ons ken die uitdrukking om vir iemand in die bresse te tree, maar wat op dees aarde is ’n bres? Kom ek skets gou die agtergrond. Destyds is daar sterk mure om stede gebou om die inwoners te beskerm, maar die vyand was natuurlik gerat daarvoor met reuse-stormramme waarmee hulle ’n gat in die muur sou breek. Daardie gat in die muur word ’n bres genoem. Die dapperste vegters sou dan in die bresse tree om die stad daar op die kwesbaarste deel te beskerm. In Psalm 106:23 lees ons: “God se geduld met sy volk was op. Hy wou Israel vernietig. Maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie.” Daar het Moses vir sy mense in die bresse getree. Jesus Christus het Sy kruis vir elkeen ons in die bresse geplant. Beslis ’n kosbare beeld om die Paasnaweek saam te neem, op ver paaie of selfs in Jan Tuisbly se karretjie.
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie