Ons taal
Kompeleer
Twee weke gelede het my kollega geskryf oor sy nuutskepping, fniks, en dat dit nie vastrapplek kon kry nie, aangesien dit so maklik as ‘n tikfout beskou is. Ek skryf dit deels daaraan toe dat ons nie in Afrikaans veel woorde het wat met ‘n f gevolg deur ‘n n begin nie. Het die blote vorm van die woord sy poging reeds gefnuik? Daar is ‘n uitdrukking wat sê bekind maak bemind - ‘n mens is gemaklik met dit wat vir jou bekend voorkom. Ek vermoed dit is ook die geval met nuutskeppinge, en dat dit makliker op die oor en tong val as dit ‘n bekende patroon volg. Kom ons toets dit. Ons almal is bekend met die woord en idee van kompeteer. Daar is twee maats op die muurbalbaan en hulle speel nie slegs saam met mekaar nie, maar absoluut teen mekaar, want hulle kompeteer sodat een van hulle as wenner van die baan kan afstap. Met hierdie enkele doel voor oë, sal die meer gevorderde speler sy flinkste en selfs slinkste houe uithaal om die ander een ore aan te sit. Dit het tot gevolg dat die ander speler sleepvoet en sleepgemoed afstap. Die sogenaamde wenner se benadering slaan die bal ver mis, omdat sy maat volgende keer wat hy genooi word dit dalk eerder van die hand wys. Maar sê nou hulle kon in plaas van kompeteer eerder kompeleer? Dit sou verg dat die vaardiger speler moet leer om sy spel aan te pas sodat hy sy maat in ag neem. Die maat (en hyself) kry dan outomaties meer houe geslaan – ‘n wen-wen scenario.
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie