Ons taal
Ons taal

Ons taal

Hondemaniere
Sanet de Waal
Ons ou hond, Otto, was Maartmaand reeds 15 jaar oud, en hy is nog steeds in die land van die lewendes. Ek het teen Meimaand gedink dat hy nie ou bene sal maak nie, maar glo my vry, al kan hy nie meer harde bene kou nie, is hy steeds nie oor die muur nie, selfs al voel dit soms of hy reeds met een voet in die graf is. Hy het beslis nie ‘n hondelewe nie - hy word letterlik (én figuurlik) op die hande gedra, want trappeklim is hom nie meer beskore nie.

Tog vreet hy steeds vir die eerste span, en sy dag is ongetwyfeld volmaak as Manlief tuis kom en hy sy vreugde bokspringend te kenne gee. ‘n Man se beste vriend. Ek het so soortvan probeer vriende maak, maar ek kon nie hond haaraf maak nie. Hulle sê mos mense is soos honde, daar waar hulle kos kry, bly hulle. Maar selfs al gee ek gereeld vir Otto kos, bly Manlief hond se baas! En elke hond kry sy dag, maar die ou brakkie kry glo twee.

In ons huis kry Otto dag en nag, want ons maak beurte met ons pajamaparade. Baie honde is ‘n haas se dood, en so kry ons gesin saam-saam die werk verrig. Soos hulle ook sê, kommandeer jou eie honde en blaf self. So, ons kan nie vir ander ons werk uitdeel nie. Wanneer my seun die vloer poets, moet hy soms maar kwaai op sy tande kners, maar later speel hulle weer ‘n hond uit ‘n bos uit. En wanneer hy en Otto saam op die hangstoel swaai, lyk hulle al twee soos honde wat vet gekry het! Oor drie weke gesels ons verder oor hoe diere in ons taal uitgebeeld en gekarakteriseer word. Wie weet, dalk reën dit dan al katte en honde. . .

Petronella F Genis

Facebook: Woordspoor

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer