Ons taal
Ons taal

Ons taal

Vertalings
Sanet de Waal
Hallo Ma

Die laaste maand is ek weer student en is besig met ’n vertaalkursus van literêre tekste uit Nederlands in Afrikaans.

Dit is ’n kinderverhaal waaroor ek my kop nou breek. Die seun, Ozzie gaan na ’n grappieswinkel toe op soek na ’n “grapje” met ’n skamele veertien euro-dertig in sy sak. Toe die winkelassistent hom vra presies waarna hy soek, vertel Ozzie hom van die geval Ziva. Die winkelmeneer begryp dadelik. Hulle soek oral, by die tweedehandse grapjes, die kopkrakers, die flouwe grapjes. Agter ’n rooi fluweelgordyn is die grapjes voor boven 18, en hulle moes weer verby hou, want Ozzie is 12 jaar oud.

Ten einde raad neem die man hom na ’n bak vol uitskotgrappies en sê hy moet daarin rondkrap; dalkies is hy gelukkig. Half weggesteek onder die ander kry Ozzie toe iets waarna hy soek. Hy bekyk dit en begin lag. Die grappie is ook bekostigbaar. Hy neem dit, betaal, en die man vra of hy dit moet toedraai in geskenkpapier, maar Ozzie sê, dis nie nodig nie.

Dit word toe net in ’n sakkie gesit en daarby word ’n piepklein grappie in die sakkie geprop – ’n grappie op die huis.

Ma, ’n grapje in Nederlands is iets soos ’n poets wat jy vir iemand bak, en nie gelykwaardig aan die Afrikaanse grap nie. Ek het altyd gedink dat ’n grapje en mop in Nederlands sinonieme is, maar dit is toe helaas nie so nie!

Vertalings is in werklikheid interpretasies wat die leser van die doeltaal moet bereik. Ek het die afgelope tyd baie bewus geword van ’n tipe ongemak wat vertaling meebring. Ek het verder geleer dat die doelteks nooit identies kan wees aan die bronteks nie. Wat volgens die kenners wel noodsaaklik is, is dat die boodskap (of boodskappe) van die bronteks en die doelteks gelykwaardig moet wees.

Ma, vra die Meestervertaler daar waar Ma bly, hoe vertaal mens verlange?

Baai my Ma

Dr. Chrisna Beuke-Muir

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer