Ons taal
Van kattekwaad tot kattegoed
Toe ons die vorige keer oor die hondesêgoed gesels het, het ek geëindig met die hoop dat dit honde en katte sal reën.
My vriendin vertel van haar pa wat altyd gesê het: Hou jou sondige oë uit die weer uit!
Dis hoeka omdat ons ou lekies so min weet van die weer soos ‘n kat van safraan. En daarom kan ons so maklik die kat aan die stert beet hê. Maar met al die brande wat die afgelope tyd so om Windhoek gewoed het, het ek vir reën begin kerm soos ‘n kat oor ‘n derm.
Elke keer wat ek van nog ‘n brand gehoor het, het ek omtrent gelyk asof die katte my kos afgeneem het. En daar was benoude oomblikke wat ek benoude spronge gegee het. Veral toe ons knap na middernag sien dat die vlamme bo ons bure se huis uittroon, was dit asof iemand ‘n kat in die duiwehok gegooi het.
Daar was nie tyd om eers die kat uit die boom te kyk nie. Ek was kwaad vir die kat, toe skop ek die hond, want die naderende brand het my ontsenu, toe raak ek sommer ongeduldig met Manlief wat my net wou gerusstel. Ja, ek het gedink ons staan nie ‘n kat se kans teen die reusevlamme nie, maar dankie tog dat selfs ‘n kat in ons Koning se rigting mag kyk.
Die afgelope paar dae het die rookwolke gekwyn en het reënwolke verskyn. Ek neig aanhoudend venster toe, soos ‘n kat om ‘n bord warm pap. Al die berigte van reën laat my voel soos ‘n kat wat room gekry het. En as daardie eerste druppel op my voorkop land, is ek weer katjie van die baan!
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie