Ons taal
‘Fniks’
In my vorige bydrae het ek probeer om ’n nuwe woord te skep, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Die woord was “fniks”. Dis ’n versmelting van die afleiding van ’n bepaalde woord wat op f begin en die woord “niks”, en dit beteken min of meer “geheel en al niks nie”. Ek het dit gebruik in die sin “Dit het fniks te doen met hoe dit in Engels gesê word”. Die redigeerder van my teks het duidelik gedink “fniks” is ’n tikfout en het die f verwyder. Dis natuurlik heeltemal verstaanbaar, maar dan moes ook ’n tweede “nie” aan die einde van die sin bygevoeg word. Die uiteinde is dat ek ’n ontkennende sin geskryf het sonder die tweede “nie”, waar daar een vereis word. (’n Mens sou nou kon redeneer of “fniks” die tweede ”nie” sou vereis al dan nié, maar daarop sal ek nie nou ingaan nie.) Die weglating van die tweede ”nie” in Afrikaanse ontkennende sinne waarin dit behoort te staan, is aan die toeneem. Ek dink daar is twee verbandhoudende redes hiervoor: Engels en sosiale media. In Engels bevat ’n ontkennende sin nie twee maal “not” nie, en onder dié invloed kwyn die tweede “nie” in Afrikaans. In ons wêreld van kitskommunikasie is dit ook somtyds té veel moeite om die tweede “nie” by ’n WhatsApp of SMS in te sluit, veral as almal (danksy Engels?) verstaan wat ek bedoel. Is Afrikaans (danksy Engels?) op pad terug na sy pure Germaanse oorsprong, want in Nederlands en Duits word ook net een negatiewe bywoord gebruik? Gaan dit oor tien jaar verkeerd wees om ’n ontkennende sin met ’n tweede “nie” te skryf? Dit sou tog jammer wees, want dis so ’n mooi, onderskeidende kenmerk van ons taal.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie