ONS TAAL
In die volgende paar bydraes gaan ek kortliks gesels oor die etimologie van die benaminge van sekere militêre eenhede en range.
In baie gevalle is dit nie moontlik om ’n enkele herkoms aan ’n bepaalde militêre benaming toe te skryf nie, in welke geval die verskillende moontlikhede kortliks weergegee sal word. Dis ook duidelik dat geen moderne militêre benaming ’n nuutskepping in Afrikaans is nie. Militêre benaminge is oor die algemeen erfgoed en leengoed, dit wil sê hulle kom uit die voedingstale van Afrikaans.
Ons begin by die etimologie van die woord leër. Dié woord is geërf uit die Nederlands leger, wat teen 855 die betekenis van “skuilplek van ’n dier” gedra het. In Middelnederlands is die woord legher in die periode 1450-1500 gebruik in die betekenis “beleg” (van ’n stad, ens.). Teen 1530 het die woord leger die betekenis “kamp van ’n strydmag” gedra. In die vroeë Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis sou hierdie betekenis deur die verwante woord laer (< Ndl. lager) weergegee word. Teen 1707 is die betekenis “krygsmag van ’n staat” opgeteken. Ouer woorde met die betekenis “krygsmag” is heer (Duits: Heer), teen 850 (onverwant aan heer “man” of Heer “God”). Ons vind die krygsmagbetekenis van heer terug in diachroniese samestellings soos herberg en hertog, en in ou Germaanse persoonsname soos Herbert, Harald en Herman, laasgenoemde met die betekenis “man van ’n krygsmag”, oftewel “kryger”. Miskien kan ons die kryger in ’n volgende bydrae van troep tot sersant bevorder.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie