Ons taal
Ons taal

Ons taal

Voet se dinge
Petronella Genis
Vandag trap ek weer bietjie rond in Anton F Prinsloo se boek oor Afrikaanse woorde wat eeue-oue betekenisreise agter die rug het, ‘n Dief aan die kers. Soos ons kan raai, lê die woorde se eerste spore in Latyn. Vandag se woorde is ekspedieer teenoor impedieer en impediment. Ja-ja, julle is heeltemal reg, ons het mooier Afrikaanse woorde daarvoor, maar tog bestaan hierdie drie ook. So, kom ons staan bietjie stil daarby. Eerstens, impediment. . . Die Latynse woord waarvan ons woord afstam, is impedire wat letterlik beteken “die voete boei” en figuurlik dan “belemmer of hinder”.

Dit laat dink my aan die pragtige uitdrukking dat iets jou kniehalter, waaroor ons langoor vriende ons baie sou kon vertel, as ons net hulle gebalk sou verstaan. Impedieer (belemmer of verhinder) beteken dus dat jou voet figuurlik in iets vassit. Hierteenoor beteken ekspedieer (bespoedig) weer dat jy jou voet uit iets hinderliks uithaal. Prinsloo voer dus aan dat die woord spraakimpediment ‘n minder ideale woord is, want dit sou dan bykans beteken dat jy elke keer as jy jou mond oopmaak, jou voet daarin sit.

Petronella F Genis

[email protected]

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer