ONS TAAL
Vandag wil ek kortliks gesels oor refleksiwiteit (in “Romaanse Afrikaans”), oftewel wederkerendheid (in “Germaanse Afrikaans”), en spesifiek oor die gebruik van -self by persoonlike voornaamwoorde. En kom ons kry dit sommer eerste agter die rug: Die werkwoord geniet is nie ’n wederkerende werkwoord nie; om te sê “Geniet jouself” is ’n sintaktiese anglisisme en klaar. Sê of skryf eerder “Geniet dit/die dag/die reën/die ete/die wat ook al”.
Daar is egter wel gevalle in Afrikaans waar die vorm “persoonlike voornaamwoord plus -self” nie net werk nie, maar waar dit móét optree. In ’n sin soos “Jy bluf net jouself” is die -self nodig, anders is dit *“Jy bluf net jou”, wat ongrammatikaal is. (Dit kan dalk wel sonder -self werk as ons die voorsetsel vir invoeg en die klem op jou plaas: “Jy bluf net vir jóú” (?).) Ons het ook die -self nodig wanneer ’n voorsetsel voor die refleksiewe vorm voorkom: “Ek is dit aan myself verskuldig” (teenoor die ongrammatikale *“Ek is dit aan my verskuldig”). Wanneer ons klem wil lê of dubbelsinnigheid wil uitskakel, kan die -self ook handig te pas kom; vergelyk “Hy praat met hom” teenoor “Hy praat met homself.”
Maar in gevalle soos die volgende is die -self volkome onnodig, en ons kan dit as ’n vorm van toutologie beskou: “Ek vra my af...” (nie myself nie), “Sy moet haar uitspreek oor...” (nie haarself nie) en “Hy leef hom uit” (nie homself nie). En hoe minder gesê word oor die afskuwelike “Ek myself sal...”, hoe beter!
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie