Ons Taal
Ons Taal

Ons Taal

Karin Eloff
Onthou Ma hoe ek en my niggies en nefies agter in die kombi raaisels gevra het? “Raai, raai, riepa, die geel is die piepa, die wit is die doedelsak waarin die geel piepa staan. Wat is dit?” Die antwoord op die raaisel is eerder 'n kultuurding as 'n fyn beredeneerde stuk logika. En vir vandag se kinders is dit waarskynlik effens simpel. Eerstens weet hulle nie wat 'n piepa is nie – en boonop klink dit ook 'n bietjie ongeskik. En 'n doedelsak is ook nie deel van hul verwysingsraamwerk nie.

Dat die antwoord 'n “varkblom” is, sou hulle beslis nooit kon raai nie. Tog – die varkblom bestaan gelukkig darem nog, maar wat van: “Swart is die water, wit is die land, vyf soldate en een kommandant. Raai raai wat is dit?” Daar sou geredeneer kon word dat mense deesdae min skryf, en dat daar weinig kans is om op “ink, papier, hand en pen” uit te kom.

“Maak my dood dan leef ek langer, laat my leef dan sterf ek gouer. Wat is dit?” Ja Ma, dis 'n kers! En die groot ding is dat kerse vandag steeds gewild is – om atmosfeer te skep, en nie juis lig nie. Ek kan nie onthou dat ons in Kleinmond se strandhuisie ooit atmosfeer wou skep met allerlei liggietjies en dingetjies wat weinig lig op die onderwerp werp nie. 'n Kers was 'n noodsaaklikheid wat jy aangesteek het die nag as jy 'n draai moes loop en kyk waar jy trap om nie die koos onder die bed om te trap nie. Jy het dit immers self die oggend vinnig onder die bed ingestoot met die bietjie Dettolwatertjies daarin, en as die oor effens uitsteek, dan weet jy jy moes die kers opgesteek het.

Ma, vra Ma-hulle raaisels daar waar Mamma nou woon? En laat God hom soms vermaak en maak asof Hy nie die antwoord weet nie?

Baai my Ma



Dr. Chrisna Beuke-Muir

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer