Ons taal
Ons taal

Ons taal

Dit sukkel maar
Sanet de Waal
sukkel, ge-, vb. struggle, plod/trudge (on), bumble, worry along, drudge, toil (and moil), have a difficult time; hassle. Hiérdie woordeboekartikel is ’n uittreksel uit die Pharos Afrikaans-Engels/English-Afrikaans-woordeboek.

Met al hierdie inligting kom ek steeds nie nader aan ’n presiese Engelse vertaling vir die sin “Dit sukkel maar” nie. ’n Mens wil of moet mos so nou en dan in Engels ook sê dat dit maar sukkel, maar dit sukkel maar om in Engels te sê dat dit maar sukkel. Of sukkel my Engels maar net? Dalk sukkel die Engelse nie. Hulle het net so nou en dan ’n “difficult time”, of as dit nou regtig woes sukkel, dan “struggle” hulle. By die Duitsers gaan dit nie beter nie. As iemand sukkel, dan “müht er sich ab” of “quält er sich ab”. Dit klink rof vir die Afrikaanse oor, maar miskien wil hulle dit nie te moeiteloos maak om te sê as iemand sukkel nie. Miskien verdien sukkel meer as net een woord. Soms wil sukkel egter in geen woord uitgedruk word nie, soos wanneer ons “Dit sukkel maar met hierdie mense” in ons Namibiese Engels wil sê: “Eish, these people ... og” is miskien die naaste wat ons daaraan kan kom. Dit lyk my Afrikaans het hier ’n woord beet wat in hierdie ander tale bekend sou staan as ’n leksikale gaping: Daar is ’n betekenis, maar daar is ’n gaping in die taal se woordeskat om die betekenis in een woord uit te druk. Dan kan dit soms sukkel om die presiese betekenis én gevoel oor te dra. Ek sukkel nou om hierdie bydrae mooi af te sluit, so ek stop maar hier.

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer