ONS TAAL
ONS TAAL

ONS TAAL

Karin Eloff
Daar is ’n drieletterwoord in Afrikaans wat ons daagliks gebruik, maar waaroor ons baie min (indien enigsins) nadink. Natuurlik oordink ’n mens nou nie elke woord wat jy elke dag gebruik nie, maar soms soek ons tog so ’n bietjie in die grysstof na daardie woord wat tog net effens beter uitdruk wat ons probeer sê. Maar hierdie woordjie kom so te sê outomaties, en as die emosies begin hoog loop, kan hy ook dít goed oordra. Die HAT probeer sy bes om die woordjie so eenvoudig as moontlik voor te hou, maar juis daarom skiet hy te kort. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek probeer nog kriptieser wees en bied gevolglik ongelukkig nog minder aan die gebruiker. Die WAT kom wel ’n bietjie nader aan die waarheid. Benewens sy behandeling in Afrikaanse woordeboeke het daar ook al enkele wetenskaplike artikels oor dié woord in taalkundige vaktydskrifte verskyn, maar navorsing oor hom is steeds aan die gang. Aan die Universiteit van Namibië het ons onlangs begin om saam met die Universiteit Duisburg-Essen in Duitsland na onder meer hierdie woord en sy Duitse vertaalekwivalente te kyk. Die ding is dat dit nie ’n “gewone” woord soos stoel of tafel is wat ons in “konkrete” betekenisterme kan beskryf nie. Hierdie woord dra nie soseer betekenis as wat hy ’n sekere gespreksfunksie verrig nie: dis een drieletterwoordjie wat iets tot die gesprekskonteks bydra wat ons andersins in ’n hele sin sal moet sê. Hierdie woordjie is die modaliteitswoord mos, en ons kyk volgende keer van naderby na hom.

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer