Ons Taal
Ons Taal

Ons Taal

Karin Eloff
Ek het verlede keer begin gesels oor die uitdrukking om stokkies te draai, maar het toe die pad ’n bietjie byster geraak. Hierdie keer sal ek die doel voor oë hou en nie dwaal nie. Ek sal my nie van stryk laat bring nie; ek sal skouer aan die wiel sit en ek sal nie . . . O ja, stokkiesdraai. Dié uitdrukking beteken deesdae dat iemand nie by die werk of by die skool is soos wat hulle behoort te wees nie, en dat hulle vermoedelik met niks produktiefs besig is nie. Ek het onlangs die voorreg gehad om by prof. Christo van Rensburg te verneem waar dié sêding vandaan kom. Die oorsprong lê in die wingerdwêreld, en dit het nie soveel met die gefermenteerde produk daarvan te doen as wat mens dalk dadelik mag dink nie. (Ek hoop wel ek vertel die storie nou reg, want ek weet nul van wingerde en wyn maak; ek is meer ’n eindprodukverbruiker.) Sien, as ’n sekere tyd van die jaar aanbreek, moes wingerdstokkies geplant word. Omdat hulle so klein is, is die stokkies met tou aan die wingerddraad vasgedraai. Dit was uiteraard ’n baie arbeidsintensiewe taak, en daarom het die wynboere hul kinders in dié tyd uit die skool gehou sodat hulle op die plaas kon help om “stokkies te draai”. As daar dan gevra is waarom Jan nie vandag in die klas is nie, is daar gesê dat hy stokkies draai. Die uitdrukking het dus sy ontstaan in ’n heel produktiewe sosioëkonomiese aktiwiteit, maar êrens langs die pad het dié betekenisaspek verlore gegaan en het die betekenis verbleik. Daarom skryf ons ook deesdae stokkiesdraai as een woord.

Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer