Ons sal bloed aan ons hande hu00ea
Ons sal bloed aan ons hande hu00ea

Ons sal bloed aan ons hande hê

Dani Booysen
GODVRESENDE SKRYF:

Geagte President Hage Geingob en Parlement

Dit is baie onrusbarend om te verneem dat daar 'n wet vir aborsie in die vooruitsig gestel word.

Meneer, die president van Namibië, u staan as hoof en hoogste gesag van hierdie pragtige land, Namibië. U moet die land bestuur en die lewensomstandighede van inwoners (mede-Namibiërs) verbeter.

U regering het egter in baie opsigte gefaal, en die grootste ramp wat die land getref het, is korrupsie, waarvan u terdeë bewus is. Daarom het mense vertroue in die meeste leiers in die regering verloor.

Ons is glo 90% Christene, wat beteken Namibië glo in die God van die Heelal, in Jesus Christus as die Verlosser van die wêreld en in die Heilige Gees as Helper en Raadgewer, om te leer en te lei in die waarheid. Wat beteken Namibië vrees God.

President Geingob, die kerk sal haar skuldig maak aan bloedskuld as sy nie haar stem verhef nie en die basuin blaas soos in Esegiël 33 vers 3 tot 6: ". . . en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense. As dan iemand die geluid van basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, as die swaard kom en neem 'n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis."

President Geingob, volgens Esegiël, soos hierbo aangehaal, en ook volgens 2 Konings 24:3b-4, Job 4:7, Jesaja 59:7, Jeremia 2:34 en Jeremia 22:3 - moet asseblief nie u eie hande besmet met die vergieting van die onskuldige bloed van kinders nie. Sekerlik sal God hulle bloed van u hande eis.

Die doodstraf is afgeskaf en menseregte is in plek gestel. Die moordenaar het nou die reg om te lewe.

Nou wil die parlement die doodstraf herinstel deur onskuldige, ongebore mense van hul regte te ontneem en hulle te vermoor. In dieselfde asem sal ons van voornemende moeders kindermoordenaars maak.

Geagte President, moenie toelaat dat hierdie voorstel ter tafel gelê word vir bespreking nie. Aborsie mag nooit goedgekeur word nie.

Mag God u genadig wees, en aan u Sy Goddelike wysheid gee soos aan Salomo.

Kommentaar

Republikein 2026-07-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer