Ons nuwe vriend Jack (en Tom, Livia, Alex)
Ons nuwe vriend Jack (en Tom, Livia, Alex)

Ons nuwe vriend Jack (en Tom, Livia, Alex)

Minette Brink
Good day!

We are a company mainly producing wigs.

We understand you through the information you posted on the Internet.

We would like to take this opportunity to introduce our company and products.

If you are interested in these projects, please let us know.

Thank you for your precious time.

Have a nice day.

Best regards

Jack Lee, Qingdao Ace Road International Trade Co., Ltd, Shandong Province, China.

Nee wat, ou Jack. Jy vat ‘n kans. Jy en jou pruikpos lê nie verniet in my gmail se spam-boks nie. Ek hét groot hare, maar dis nog stewig in die ou kopvel. G’n gevis vir valses op die internet van my kant af nie. Nog nie. Jy is dus ‘n ou jokkenaar. ‘n Kuberbekruiper. Sies.

Maar aangesien jy so ruim met jou aanbiedings is, en so voor op die wa my adres misbruik, kom ek maak jou dag.

As enigiemand meer oor Jack se pruik- en ander projekte wil uitvind, of enige diensklagtes het oor enigiets onder die son, kontak hom op Whatsapp: +86 18724725920, Wechat ID:332020673, Skype ID: 332020673 en [email protected]. Wie Tom is, weet ek nie. Dalk trek die pruikfabriek swaar en moet werkers ‘n e-posadres deel.

Huil gerus sommer oor enigiets in sy oor.

Hy sal tog sekerlik nie omgee dat ek sy kontakbesonderhede wat hyselwers mildelik op my afgelaai het, wyd en syd deel nie. Kom ons toets Jack en/of Tom se uithouvermoë en die handhawing van beskaafdheid en geduld.

Ek het dadelik ons nuwe vriend bedank vir sy aanbod, maar nee dankie daarvoor. ‘n Heerlike brief teruggeskryf met ‘n lys van die ou goedjies wat my grensloos omkrap. Dalk het hy die antwoorde.

In my brief is onder meer geteem oor skelm winkeleienaars wat jou breinspoel. Kaas is hul gunstelingtoormiddel. In reuseskrif sal daar teen die vertoonrak staan: XYZ Gouda, net N$99!!! En piepklein onder, só klein jy frons-fokus jouself in ‘n migraine in, per 750 g. Dis skelm. Sies.

‘n Mens is tog gewoond aan goed wat per kilogram verkoop word. Jou brein gil aanvanklik “winskopie, winskopie, laai, laai!”, maar gelukkig sien hy rooi voor jy koorsagtig die blokke in die trollies begin opstapel. Hallooo. Werk gou uit. Dis N$132 per kg. Sies. Nou vra ek jou, Jack of Tom, watter melk is gebruik? Dié van die Goue Koei?

Laat waai met die klaagliedere en laat weet my gerus watter ander raad ons almal se nuwe vriende het.

Ekselwers het ná ‘n maand nog nie ‘n antwoord van hulle gekry nie. Ook nie die sample waarvoor ek so mooi gevra het nie.

Pieng sê die foon.

Dear purchasing manager

I'm glad to hear you're in the market for wigs.

We specialize in this field for many years.

Good quality and competitive price.

If you have any questions, please don't hesitate to contact me.

Samples can be sent to you for evaluation.

Have a nice day

Best regards

Livia, Qingdao Ace Road International Trade Co., Ltd, Shandong Province, China (Whatsapp +86 18724725920, Wechat ID:332020673, Skype ID: 332020673, [email protected]).

Geduld is ’n gawe.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer