Ons kyk vorentoe
Ons kyk vorentoe

Ons kyk vorentoe

[email protected]
Otis Daniels_Finck
Otis Finck

Die kruisies is getrek en die uitslae is bekend. Nou verwag ons van die verkose eerbare raadslede om ons kruise vir ons op te tel en ons laste soos liewe Jesus dit gedoen het, namens ons almal te dra.

Baie burgers is op soek na ontwikkeling. Van die partye met bloedneuse moet dit maar afvee en hande vat met die oorwinnaars ten goede en tot voordeel van alle Namibiërs. Moenie soos Donald Trump wees nie, asb.

Op die hawedorp het ’n “nuwe” boot vol uitverkore passasiers kom aandoen.

By tye was die hitte op Omaruru, Karibib en Usakos ondraaglik maar dit kon oud en jonk (vanaf 18 tot 89 jaar) nie daarvan weerhou om hul kruisies te trek nie.

Ek moet sê ek is besonder beïndruk met die manier hoe dinge verloop het met die afgelope verkiesings. Teen die einde was ek ’n trotse Namibiër met die mening dat die res van Afrika gerus by ons kan kom aanklop oor hoe om regverdig te stem.

My Elect 12-vorm was die sleutel en het alle deure van die tien vaste verkiesingspunte in die drie dorpe wat ek besoek het vir die verkiesing, vir my oopgesluit.

Ek het geensins gesukkel om toegang tot die stemlokale te kry nie. Die verkiesingsbeamptes was tegemoetkomend en behulpsaam. Die kiesers was verdraagsaam en het hulle ook mooi gedra.

In die rye was die gemoedere by tye stemmig. Daar is grappe gemaak en ook in alle erns besin oor die belangrike daad wat voorlê. Ek het geen vorm van intimidasie ervaar nie.

Corona het genoodsaak dat alle hande ontsmet word en temperature geneem is voor die register ingevul is.

Die jeugdige kiesers was by tye ongeduldig met die tydrowende senior burgers, maar dit het genadiglik net by ongeduld gebly.

Net een swaap is betrap terwyl hy foto’s van ’n stembrief geneem het. Hy kon nie ’n verduideliking gee oor sy doen en late nie en is op die plek geboei en toegesluit.

Vir my is die kruisie trek op stembriewe nogal veel beter as die elektroniese manier. Pen of potlood was die enigste vraag wat daar was.

Toe hulle eers in die lokaal was, het die kiesers oor die algemeen tussen vyf en tien minute geneem om hulle stemme uit te bring.

Sommige van die duplikaatstemkaarte het geneuk by die elektroniese masjientjies, maar die praktiese verifikasie het sy plek volgestaan en dinge het aangegaan soos dit moet.

Die tel van stemme was deursigtig hoewel tydrowend en die eerste resultate in die land was reeds teen 05:55 die volgende dag op Karibib aangekondig.

By sommige stemlokale was die verkiesingsbeamptes so opgewonde en moeg dat hulle vergeet het om die uitslae op te plak!

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer