Ons koop mos net tissues ... wat kan dan skeefloop?
Ons koop mos net tissues ... wat kan dan skeefloop?

Ons koop mos net tissues ... wat kan dan skeefloop?

[email protected]
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg – Die meeste mense wat my ken, sal weet ek het die vermoë om myself in die moelikste situasies in te kry, sonder om eens te probeer. Ek het ook die absolute voorreg om my naam weg te gooi soos nog geen persoon dit kon regkry nie.

Ek het ook die gawe om ander mense saam met my in die skande te steek, want hoekom nou nie?

Dis egter nie iets wat eers onlangs verskyn het nie. Hierdie gawe het ek reeds vanaf ’n baie jong ouderdom gekry.

Van my en my suster se hare self met my baba skêrtjie sny, tot die dag toe die hele huis, die televisie en my ouma met room besmear is, het Mariselle al alles en nog wat reggekry.

Hoe my arme ma dit tot nou gehou het, weet ek nie, want dit het nie beter geraak met ouderdom nie.

Ek het wel weer onlangs aan een van my uitblinker-oomblikke gedink wat ek nooit sal vergeet nie.

Ek was seker so rondom sewe of agt, toe dit finaal tot my ma deurgedring het sy gaan altyd haar hande met my vol hê.

Ons was buite die winkel nadat ons reeds inkopies gedoen het, en my ma besef sy het tissues vergeet. Sy wil uitspring om te gaan koop, maar Mariselle bied ewe gretig aan om in te gaan.

Hoe meer my ma probeer keer, hoe meer dring ek daarop aan ek is oud en slim genoeg om self ’n pakkie tissues te gaan koop.

Ek is so duskant ’n behoorlike lê-op-die-vloer-en-gil-my-longe-uit oomblik toe my ma maar ingee. Dis tog net ’n pakkie tissues; hoeveel skade kan ek aanrig?

Duidelik het ons albei my onderskat.

Met die instap is ek reguit na die rakke waar ek seker is die tissues is. Daar is skielik baie meer as wat ek gedink het, met verskillende kleure en groottes. Nie een kom in die kartonboks wat my ma gewoonlik koop nie, maar ek kies die grootste en mooiste pak.

Trots loop en kassiere toe, met die pak “tissues” in my klein handjies vasgeklou.

Die tannie voor my draai so ewe om en rek haar oë. “My liefie, is jy nie te jonk om hierdie hierde goedjies te gebruik nie?” vra sy so ewe onskuldig.

En niks ontstel ’n kind soos wanneer jy aanneem hulle is te jonk om iets te doen nie.

“Tannie, ek gebruik dit al vandat ek ’n baba is. En partykeer as ek nie lekker voel nie, amper ’n hele pakkie op een dag.”

Die tannie val amper agteroor en ek is seker sy verstik so amper-amper aan haar valstande.

Die kassiere kyk my ook met groot oë aan toe ek wil betaal.

Ek verstaan glad nie wat almal se problem is nie. Wie ken nie tissues nie?

Vol bravade loop ek kar toe, en al gillend skree ek vir my ma ek het die goed gekry, en swaai dit ewe sodat almal moet sien.

Die skok op my arme ma se gesig is iets wat woorde nooit sal kan beskryf nie.

Hier klim haar graad 1 dogtertjie in die kar met die grootste pak sanitêre doekies wat seker op die rak beskikbaar is. Die kar langs ons se mense lê soos hulle lag, en my ma wil haar dood skaam.

Ek draai so ewe die venster af, kyk die oom in die oë en sê: “Oom, dis baie ongeskik om vir mense te lag. Ek weet jy gebruik hierdie ook, so moet nie vir my ma lag oor sy elke week nuwes moet koop nie.”

Ek weet nie wie was rooier, my ma, die oom of sy vrou nie.

Dit was ’n geruime tyd voor ek weer in enige winkel vertrou is.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer