Onnie kombineer twee liefdes

Yandi Du Plessis
Jeanine Burger, 'n Engelse onder­wyseres van Keetmanshoop, se debuutroman is verlede week amp­te­lik bekend gestel.

Sabina is 'n roman wat diegene wat gefassineer is met historiese fiksie se belangstelling sal prikkel.

Hoewel Jeanine Engels gee, het sy 'n passie vir geskiedenis en die Antieke Wêreld. In haar eerste reeks romans, Women of the Roman Empire, daag sy die beperkte genderrol uit wat vroue in die antieke tyd toegelaat is om te speel.

Sy het 'n graad in taal- en literatuurstudies, met kreatiewe skryfkuns as hoofvak. Sy het haar opleiding in Antieke Geskiede­nis ten volle benut tydens die skryf van hierdie romans.

Haar liefde vir perde kom duidelik na vore in die unieke verhouding wat die hoofkarakter met die ­inheemse Afrika-perde deel.

Met dié roman kon Jeanine haar liefdes vir letterkunde en geskiedenis kombineer.



DIE STORIE

Sabina, die hoofkarakter, word agtervolg deur 'n groep soldate, rondom die waterweg en golfbreker waar sy die liefde van haar lewe, Ddymus, vir die eerste keer ontmoet het.

Nadat sy uit 'n bewustelose toestand ontwaak, bevind Sabina haarself in uiters vreemde omstandighede, wat sy heeltemal verbasend en onverklaarbaar vind. Sy blyk ­heeltemal veilig te wees, of ten minste veel ­veiliger as waar sy vroeër was.

Sy is nuuskierig om uit te vind waarheen haar avonture haar sal neem.

Sabina word beskryf as 'n opwinden­de historiese roman wat groot insig gee in die geskiedenis van die ­Romeinse Ryk. Lesers wat in daardie era belangstel, sal die roman beslis boeiend en insiggewend vind.

Die boek is beskikbaar op jeanineburgerbooks.com en olympiapublishers.com.

Kommentaar

Republikein 2026-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer