Onheil dreig voor staatsrede
Onheil dreig voor staatsrede

Onheil dreig voor staatsrede

President Geingob moet praat, maar sal die parlement luister?
Augetto Graig
Augetto Graig – President Hage Geingob lewer vanmiddag sy staatsrede en daar is kommer dat die geleentheid soos laasjaar in chaos kan ontaard.

‘n Politieke ontleder en die Universiteit van Namibië se hoof van die departement van politieke en administratiewe studies, mnr. Phanuel Kaapama, sê hy dink daar is ’n moontlikheid vir wanorde.

“As mens oordeel op grond van wat ons vanaf die begin van die jaar sien, met die gewoel en beledigings, mag van die opposisielede die president in ’n hoek probeer druk, veral oor kwessies van korrupsie en die bysleep van sy naam in sulke skandale, wat hom ook mag irriteer,” reken hy.

“Vanaf die LPM en die PDM mag ons dalk een of die ander soort vuurwerke verwag,” sê Kaapama. Hy verwys onder meer na die amptelike opening van die parlement vanjaar toe die opposisie ook in oproer was.

Heersende spanning maak die tyd ryp vir ontwrigting tydens die tradisionele vraag-en-antwoordsessie, reken Kaapama.

Ontleder Henning Melber sê: “Ek hoop dat opposisielede van die parlement sal terugkeer na behoorlike beleidartikulasie, in plaas van oproerige gedrag. Beleid moet nie verkeerd verstaan word as die een wat die hardste kan beledig nie,” sê hy.

Kaapama is van mening dat ontwrigtende optrede die aandag weglei van belangrike, nasionele kwessies.

“Die publiek keur dit ook nie goed nie. Ons het reaksie op beledigings gesien en openbare opinie is nie aan die kant van die soort taal nie,” voeg hy by.

“Ons moet nie buurlande en ander lande na-aap nie. Namibië is ’n baie unieke demokrasie en ons moet ons eie politieke diskoers ontwikkel. Namibiërs geniet die Malema- en EFF-politiek in Suid-Afrika, maar sal dit nie hier goedkeur nie,” voer Kaapama aan.

“Ons het ’n unieke geleentheid om politiek te bedryf wat werk te skep, oor kontruktiewe kwessies en nie oor persoonlike vendettas of belediging nie,” sê Kaapama.

Melber sê “beleid gaan oor die stelling van sterk argumente op ’n berekende manier, wat deur die inhoud van die boodskap oortuig en nie deur aggressiewe vertonings van disrespek teenoor huisreëls nie. Ek dink nie Namibiërs word beïndruk deur uitbarstings nie,” sê hy.

‘n Senior lektor in politieke studies, mnr. Lesley Blaauw, voeg by: “Ek dink nie die Namibiese publiek het op die oomblik baie respek vir die parlement nie, wat beteken die bietjie respek wat daar is, kan verder verweer word.”

Blaauw en Melber stem saam dat Geingob die tweede hoofstuk van die Harambee-welvaartsplan in sy staatsrede sal voorop stel. Melber dink die president moet ook oor korrupsie praat en eerlik wees oor die ekonomie en die plan om Covid-19 te hanteer.

“Hy mag ook iets rep oor reparasies-onderhandelinge en miskien ook geslagsgeweld,” voeg Melber by. Blaauw sê werkloosheid onder die jeug moet beslis prominent aangespreek word.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer