Ongeluksyfers daal
Ongeluksyfers daal

Ongeluksyfers daal

Volgens die Motorvoertuigongelukfonds se statistieke was daar minder ongelukke, sterftes en beserings tydens vanjaar se feesseisoen as in dieselfde tydperk verlede jaar.
Francoise Steynberg
Ongelukke het in die 2016-'17-feesseisoen vanaf 22 November tot 26 Desember met 14% afgeneem en sterfgevalle en beserings met 23% vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in 2015.

Volgens die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) se statistieke was daar 398 ongelukke in die 2016-'17-feesseisoen, met 65 sterfgevalle en 741 beserings.

"Die meeste ongelukke (33%) het in die Khomasstreek plaasgevind, gevolg deur Otjozondjupa (13%) en Erongo (12%). Voertuie wat omslaan, maak 36% van alle ongelukke in die feesseisoen uit, gevolg deur botsings (27%) en voetganger-verwante ongelukke (17%)," lui 'n verklaring van die MVAF.

TWEE STERFGEVALLE

Twee mense is Saterdag op slag dood nadat die sedan waarin hulle gereis het trompop met 'n sportnutsvoertuig (SUV) buite Otavi gebots het.

Die voorval het om 23:38 sowat sewe kilometer suid van Otavi plaasgevind. Dit word beweer die sedanvoertuig het 'n vragmotor op 'n blinde hoogte verbygesteek en teen die SUV gebots.

Die oorledenes is as mnr. Henry Denver Barker (31) en me. Helena Awases (26) geïdentifiseer. Hul naasbestaandes is van hul dood ingelig.

Volgens die polisie was die sedanvoertuig van Otavi na Otjiwarongo onderweg terwyl die SUV in die teenoorgestelde rigting gereis het.

Die 26-jarige bestuurder van die sedan het die ongeluk oorleef, maar hy is beseer en na die Otjiwarongo-staatshospitaal geneem. Die SUV se 25-jarige bestuurder en 'n passasier is ook beseer. Die polisie se ondersoek duur voort.

SES OORLEEF

Ses Tsumeb-inwoners het Sondag 'n ongeluk oorleef waartydens 'n motorband omstreeks 11:30 tussen Namutoni en Halali in die Etosha Nasionale Park gebars het.

Die bestuurder en die passasiers, insluitende 'n eenjarige baba, het ernstige beserings opgedoen en is in die Tsumeb-staatshospitaal opgeneem. Die polisieondersoek duur voort.

Voorts is 'n 23-jarige vrou op slag dood nadat die bakkie waarin sy gereis het op 'n grondpad tussen Ovitoto en Okahandja omgeslaan het. Die voorval het omstreeks 23:30 Sondag plaasgevind .

Die oorledene is as me. Natasha Katjingisiua geïdentifiseer en haar naasbestaandes is ingelig.

Die bestuurder van die bakkie het glo beheer oor die voertuig verloor. Dit het omgeslaan en op die dak te lande gekom.

Daar was sewe mense in die voertuig, die 23-jarige bestuurder ingesluit.

Die ses ander passasiers het ligte tot ernstige beserings opgedoen en is na die Okahandja-staatshospitaal geneem. Die polisieondersoek duur voort.

Maandag is 'n voetganger ná 'n tref-en-trap-ongeluk op die pad tussen Omuthiya en Ondangwa oorlede.

Volgens 'n polisieverslag van die Oshikotostreek het die ongeluk by Okapuku omstreeks 00:40 plaasgevind.

'n Onbekende bestuurder in 'n sedan het die slagoffer, 'n Angolese burger, raakgery terwyl hy die pad oorgesteek het en van die ongelukstoneel weggery. Die slagoffer se naastebestaandes is nog nie in kennis gestel nie en die polisieondersoek duur voort.

'n Vrou (41) is Vrydag dood nadat 'n motor oor haar gery het in die hoofstraat van Aminuis naby die plaaslike polisiekantoor in die Omahekestreek.

Die polisie in die Omahekestreek het bevestig me. Mercia Olibile is op die toneel oorlede.

Alhoewel daar geen ooggetuies was nie, word vermoed Olibile het van die staatskantore af geloop toe sy deur die motor getref is. Die bestuurder het van die toneel gevlug en is steeds op vrye voet.

Die slagoffer se liggaam is vroeg dieselfde oggend deur 'n lid van die publiek ontdek. Die ondersoek duur voort.

Voorts is nege mense Saterdag in 'n trompop botsing op die Trans-Caprivi-hoofweg naby Rundu ernstig beseer.

Die ongeluk het by die Kanyanga-nedersetting in die Mukwe-kiesafdeling gebeur.

'n Sedanvoertuig wat van oos na wes gereis het, het met 'n bakkie gebots wat in die teenoorgestelde rigting gery het.

Dit word beweer dat die bestuurder van die bakkie beheer oor die voertuig verloor het en die botsing veroorsaak het.

Die bestuurders en sewe passasiers in beide voertuie het ernstige besering opgedoen. In die sedan was sewe passasiers, terwyl die bakkie met vier passasiers gereis het. Hulle is na die Rundu-staatshospitaal geneem.

Voorts het die bestuurder van 'n voertuig Maandag in ’n woonbuurt in Swakopmund teen die sypaadjie vasgery en die voertuig het omgeslaan. Hy is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. - Eie berig en Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer