Ongelukke kos MVA miljoene
Ongelukke kos MVA miljoene

Ongelukke kos MVA miljoene

Tanja Bause
Dertien mense het die afgelope naweek op Namibiese paaie gesterf.
Die Namibiese Padongelukfonds (MVA) het dit as die “donkerste naweek” in terme van sterftes beskryf en gesê dit kos die fonds N$91 000 in begrafnis-uitbetalings aan familielede. Dit is N$7 000 per oorledene.
“Die fonds sal ook afhanklikes ondersteun wat deur die oorledene agtergelaat is.
Die waarde van die ondersteuning sal bepaal word sodra die fonds bevestiging van afhanklikes kry. Die totale bedrag wat dié ondersteuningsvoordele beloop, is N$100 000 per afhank­like per jaar,” volgens ’n mediaverklaring wat deur die MVA uitgereik is.
Volgens die verklaring sal die MVA die 70 mense wat in die ongelukke beseer is, se mediese onkoste tot en met N$1.5 miljoen per persoon dek, wat neerkom op ’n totaal van N$105 miljoen vir mediese onkoste.

Beseringstoekennings
Die fonds sal ook ’n beseringstoekenning van tot N$100 000 per persoon, afhangend van die erns van die be­sering, uitbetaal.
Beseerde persone kan ook in aanmerking kom vir tot N$100 000 per jaar vir die verlies aan inkomste as hulle nie meer kan werk nie as gevolg van beserings wat in ’n ongeluk opgedoen is.
Die MVA, in samewerking met die Khomas Region Pedestrian Audit en die Opotuli-padveiligheidsoperasie, het intussen ’n ondersoek na padongelukke van stapel gestuur wat daarop gewys het in 30% van ­ongelukke het voertuie die pad verlaat en ­omgeslaan, in 28% was voertuie in ­botsings ­betrokke en in 22% is ’n voetganger geraak. In die Khomasstreek was voetgangers by 49% van die ongelukke betrokke. Volgens die verklaring plaas die impak van pad­ongelukke ’n sosiale en ekonomiese las op die gewone Namibiër en die land in geheel.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer