Onenigheid in Sportkommissie bars oop

Nóg 'n dispuut in Namibiese sport het op die tafel van minister Erastus Uutoni beland om uit te klaar.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Vyf kommissarisse van die Namibiese Sportkommissie (NSC) het hulle onomwonde agter hul kollega adv. Jesse Schicker­ling geskaar, wat voor die naweek sy bedanking met onmiddellike effek aangekondig het te midde van onenigheid tussen van die rolspelers in die beheerliggaam.

Die kommissarisse Erica Beukes, Adelheid Jacobs, Monica Shapwa, Benjamin Rebang en Peter Wilson het in 'n gesamentlike nuusverklaring gesê hulle ondersteun Schickerling in sy bekommernis oor die werkwyse van die Sportkommissie.

Volgens Schickerling, wat ook 'n jarelange administrateur van die Namibiese Olimpiese Komitee en vroeër die Namibiese Hokkie-unie is, is die volgehoue frustrasie dat min waarde aan sy menings geheg word en dat selfs sy openhartige en eerlike terugvoering as 'n persoonlike aanval beskou word, 'n groot rede vir sy besluit dat hy die stand van sake nie verder kan verduur nie.

Schickerling het ook die NSC se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, in die spervuur geplaas deur te beweer dat hy dikwels eensydig optree, terwyl Mwiya se salarispakket volgens hom ook op 'n arbitrêre wyse vasgestel is en die uitgawes van die NSC opjaag.

Die vyftal kommissarisse sê in hul verklaring dat hul ervaring van Schickerling beslis nie ooreenstem met wat uitgebeeld word deur Matheus of 'n anonieme kommissaris “wat nie die moed het om hom of haar te identifiseer nie”.

“Ons verskil sterk van die ongegronde verklarings in die nuusberig. Ons ondervinding van Schickerling is dat hy toegewyd en beginselvas is. Sy rekord spreek vanself. Vra gerus die sportliggame en veral die atlete op buitelandse toere vir wie hy as missiehoof opgetree het.

“Om te verklaar dat Schickerling se bedanking eintlik 'n bedekte seën is, is 'n skreiende skande.

“Eerstens is die vergoedingspakket van die hoofadministrateur (Mwiya) nooit deur die kommissarisse ('die raad') bespreek of goedgekeur nie. Dié stand van sake het ons herhaaldelik duidelik onder die voorsitter van die raad se aandag gebring.

“Die voorsitter het self 'n ooreenkoms onderteken wat die hoofadministrateur se vergoedingspakket bepaal sonder om die ander kommissarisse se goedkeuring te verkry. Ons het saam met Schickerling hierdie optrede deurgaans bevraagteken vandat dit aan ons bekend geword het.

“Die Kommissie het nie die vergoedingspakket goedgekeur nie en ons aanvaar dit nie as geldig nie. Ons stem saam met die standpunt wat Schickerling gestel het.”

Tweedens, sê die vyftal, was Schicker­ling nooit gekant teen Mwiya se aanstelling as die hoofadministrateur nie.

“Schickerling se beswaar was dat 'n vroeër besluit van die NSC om 'n ander persoon vir die aanstelling aan te beveel, nie heroorweeg kon word nie en kragteloos gemaak word deur die voorsitter wat reeds tot die besluit gekom het.

“Om aan te voer dat Schickerling die enigste kommissaris is wat beswaar teen die aanstelling van mnr. Mwiya gehad was, is nie korrek nie. Dit lyk vir ons asof die voorsitter die media probeer gebruik om sy eie ongemagtigde aksies te regverdig.”

Om Schickerling te beskuldig dat hy net twee raadsvergaderings uit agt bygewoon word, is ook misleidend, sê sy kollegas.

“Schickerling het nog altyd oop kaarte gespeel dat hy, vanweë sy werkskedule as regsverteenwoordiger, nie vergaderings op kort kennisgewing en tydens werksure kan bywoon nie. Nog nooit was Schickerling van 'n raadsvergadering afwesig sonder 'n geldige verskoning nie, óf het hy opeenvolgende vergaderings misgeloop sonder om die betrokke owerhede in kennis te stel nie.

“Die Kommissie word ongelukkig geteister deur vertraagde of kort kennisgewings van vergaderings. Die pakkette met die nodige dokumente word dikwels nie betyds vooraf versprei nie.

“Ons het voortdurend gekla oor die standaard van notule- en rekordhouding. Ons verstaan Schickerling se frustrasie ten volle.”

Ten slotte sê die kommissarisse hulle het voortdurend kommer uitgespreek oor die gereelde afwesigheid van die hoofadministrateur uit die NSC-kantoor, asook hoe hy hom voordoen.

“(Mwiya) verwys na homself as die hoof uitvoerende beampte, terwyl dit nie sy amp is nie. Hy is die hoofadministrateur. Hy as die hoofrekenmeester, moet die kantoorpersoneel bestuur en instruksies van die Kommissie uitvoer. Tussen hom en die voorsitter maak hulle asof hulle alleen die Sportkommissie is.”

Die groep stem ook saam met Schickerling se stelling dat die oorhoofse bedryfskoste van die Kommissie sodanig gegroei het dat finansiering wat vir die nasionale sportliggame en nasionale sportorganisasies bestem was word, daarin opgeslurp word.

“Ons nooi die sportkodes om te reageer en om besonderhede te verskaf van wanneer hulle laas geld vir ontwikkeling en internasionale deelname ontvang het. Oor die algemeen ontvang kodes skamele bedrae vir administrasie.”

Die groep wys ook uit dat ondanks breedvoerige korrespondensie tussen al die beswaarde kommissarisse, ver­skeie kantoorpersoneel van die NSC nogtans besluit het om die Jeugspele in Botswana by te woon.

Die NSC se voorsitter, mnr. Joel Matheus, het vroeër gesê Schickerling se bedankingsbrief is aan die minister van sport, mnr. Erastus Utoni, gerig en dat amptelike reaksie dus eerder deur die minister se kantoor uitgereik behoort te word.

Matheus het ook gesê die NSC word as 'n staatsonderneming erken en gekategoriseer. “Die wet rakende staatsondernemings is duidelik oor die vergoeding van uitvoerende hoofde en ander beamptes. Met Mwiya volg ons die nuwe wet, want die NSC was nie tevore as 'n staatsonderneming beskou nie.

“Die saak is dus doodeenvoudig; ek verstaan nie waaroor al die bohaai gaan nie.”

Kommentaar

Republikein 2026-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer