Onderwysers voer u2019n sukkelbestaan
Onderwysers voer u2019n sukkelbestaan

Onderwysers voer ’n sukkelbestaan

Mandy Rittmann
VERONTREGTE SKRYF:

My brief verwys na die artikel “I want proposals to fire people – PM”, in die Namibian van Dinsdag 19 April 2018 met spesifieke verwysing na die salariskrisis wat menige onderwyser in die gesig staar.

Hierdie artikel berig dat die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, voorstelle van alle regeringsdepartmente verwelkom om staatswerkers wat nie hul werk na wense doen nie, summier te skors.

Ek is een van moontlik duisende leerkragte wat nou al vir maande deur hierdie salarisvertragings direk geraak word. Met hierdie brief werp ek lig op ’n bietjie wat deur die betrokke onderwysers op beide professionele en persoonlike vlak ervaar word as gevolg van dié striemende, stremmende en ondeurdagte besluit.

Omdat salarisinbetalings nie betyds geskied nie, word bankrekeninghouers hewiglik gepenaliseer en word daar sodoende klomp geld afgetrek van sy salaris sodra daar fondse is, omdat aftrekorders nie uitgevoer word soos verlang nie. Jy verloor dus geld.

Die bovermelde probleem veroorsaak dat rekeninghouers se kredietwaardigheid afneem, wat die kanse meer verskraal om ’n huis, meubels, lening, motor of wat ookal, deur die bank te bekom. Jy verloor jou goeie reputasie.

IN SKULD SE SLAWERNY GEDWING

As ouer met verskeie finansiële verantwoordelikhede word ek gedwing om skuld aan te gaan en wanneer dit nie gedelg word soos ooreengekom nie, hoop dit op en verloor die lener meer as wat nodig is. Verbeel u hoe onsmaaklik dit is om by navraag te verneem dat jou salaris slegs in een maand byvoorbeeld (April) drie keer vertraag word (vanaf 20 April tot 4 Mei tot 7 Mei en weer tot 11 Mei) en intussen is daar weer hoorstories van 18 Mei!

Die gevolg is dat skuldeisers geen verduideliking wil aanvaar nie. Ek is al gevloek, gedreig, beledig, allerhande name genoem en selfs van besittings ontneem. Op ’n manier verloor jy selfs jou regte.

Die ongereelde besoldigings veroorsaak dat 'n man soms letterlik op straat sit, omdat jou huurgeld agterstallig is of nie betyds betaal is nie. Ek is nou al twee keer op straat uitgesit en die huidige "landlord" dreig om dieselfde te doen.

My skoolhoof weet hiervan en is baie ondersteunend, maar kan ook eintlik bitter min doen.

Sy (die "landlord") het nou die krag- en watertoevoer na my sinkhuisie (letterlik!) in haar agterplaas afgesluit. Dis ’n gesukkel om vuurhout en skoon drinkwater in sigself te bekom. Vra maar vir my.

Dis peperduur om uit blikkies en wegneemetewinkels te lewe, want ek het geen ander keuse nie. Intussen moet ek maar my "landlord" se dronkenskap, rasery, vloekery, dreigemente, snedige opmerkings en skellery dra en verdra omdat ek verleë is. My gesondheid, sekerheid en veiligheid is daarmee heen.

My selfoon het ’n volslae verpesting geword en my rus en vrede ken ek nie meer nie. Die plaaslike staatskliniek wil my nou glad op chroniese hoë bloeddruk-, slaappil- en depressiebehandeling sit, maar ek dring aan op slegs waterpille om my bloeddruk te beheer.

VAN ELLE EER BEROOF

Ek weet van ’n paar medeonderwysers by ander skole wat gedwing is om van hul besittings te verpant of te verkoop net om ’n bestaan te kan voer, want dinge soos taxi na en van werk, kos, krag, water, huur, klere en diesmeer, kos geld.

Maar as ’n mens wat hierdie edele beroep as ’n Goddelike roeping en voorreg beskou, staan ek maar daagliks vroeg op en takel die bul by sy hardkoppige horings, soms op ’n honger maag en seer sekerlik met vele bekommernisse in my agterkop. Wat anders moet 'n man maak?

Enige ander goeie voornemens soos om verder te studeer of ’n klein besigheidjie te begin, word telkens in die wiele gery deur dié vertragings asook deur wetgewing en regulasies wat myns insiens slegs politieke en hoëlui bevoordeel. Jy word net armer en armer gelaat.

By die Khomas-streekkantoor kry jy net datums wat maar net telkens uitgestel word. Daar is geen verduidelikings en verskonings nie – net onbeskofte, suur uitdrukkings, dreigemente en vernederings. Hier is dit van bakboord na stuurboord en nêrens! Jy word soos ’n kind behandel en verloor jou aansien as ’n betekenisvolle gesiene en bydraende burger van die samelewing.

My sig is swak en ek ly aan nagblindheid. Al het ek ’n bril, kers, lamp of flitslig, kan ek nie saans werk nie. Dit bly ’n stryd om my werk op datum te kry en daar te hou, vernaam eksamentyd, wanneer jy met berge merkwerk sit.

KAN NET 'N KAIA BEKOSTIG

Ek het nou ’n swerwer geword wat van plek tot plek trek en uitgesit word omdat ek nie my huur betyds kan betaal nie. So het ek in my kaia geëindig tot my bittere spyt, en twee derdes van my jarelange boekversameling is deur reënwater wat inlek, verniel. Dis ál blyplek wat bekostigbaar geword het. Ek het waardevolle en onvervangbare kennis verloor waarvan ek ’n deel aan my hulpbehoewende skool wou geskenk het.

As ek na al hierdie dinge kyk en betraag oor wilde "directives" en besluite wat oornag, skielik en uit die bloute op ons afgedwing word, kan ek nie verhelp om te dink dat die regering onderwysers daardeur wil terugkap oor hul laaste onlangse suksesse met eise soos salarisverhogings in die algemeen en salarisuitbetalings aan leerkragte in verre dele van die land nie.

Is dit nodig? Wie almal ly daaronder? Vergeet hulle van leerders?

As dit nie vir God se voorsiening en omgee was nie, was ek seker nou al ten gronde. Ek het nou geleer dat geld en ’n tekort daaraan alle aspekte van ’n mens se lewe raak, selfs ook die kwaliteit van sy werklewering, vernaam as jy net van ’n salaris afhanklik is.

Hoe verwag iemand dat ’n honger opvoeder ewe honger kinders moet opvoed? Maar wonder bo wonder kry ons dit nogal reg, met God se ganade alleen, nie die here en meesters daarbo op die sesde, tiende en elfde vloer en hul nog hoër rekenmeesters en base wat my salaris maand vir maand vertaag en so die onderwys en jeug se toekoms in die proses (wil) vernietig nie. En tog gaan hulle so te werk om hul salarisse betyds en voluit te kry, terwyl ons soms stuk-stuk betaal word.

Hulle verdien om summier geskors te word soos die agbare eerste minister aandring. Hulle blyk onbevoeg en lui te wees. Hulle dink glad en al nie.

Laat daar ondersoek ingestel word en laat alle skuldiges se koppe rol! Sonder vertraging.

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer