Onderwysers kry wenke by St. Boniface
Onderwysers kry wenke by St. Boniface

Onderwysers kry wenke by St. Boniface

Estelle de Bruyn
Indien skole in die Otjozondjupa-streek net die helfte implementeer van wat St. Boniface Kollege doen, kan hulle hul uitslae aansienlik verbeter.
Dit is die mening van die Gekombineerde Skool Okamatapati in die Okakarara-kiesafdeling se hoof.
Mnr. Jonathan Tjakuva was een van 12 onderwysers van verskeie skole in die Otjozondjupa-streek wat onlangs besoek aan St. Boniface Kollege gebring het om meer te leer by dié privaatskool wat tans die beste presteer in die land. Die onderwysers was van die gekombineerde skool Okamatapati, Coblenz, Okondjatu en KJ Kapeua, die Sekondêre Skool Okakarara, die Junior Sekondêre Skool Waterberg en die Primêre Skool Ludwig Ndinda.
Die besoek aan die skool by Rundu in die Kavango-Oos-streek is moontlik gemaak deur Global Diamond Valuators Namibia (GDVN), die regering se diamantwaardeerders wat Namibië se ongeslypte diamante waardeer alvorens dit verkoop of uitgevoer word. GDVN se direkteur vir korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, mnr. Timo Mujeu, het aan Nampa gesê die maatskappy is sedert 2010 by die Gekombineerde Skool Okamatapati betrokke om die Graad 10-uitslae te help verbeter. Verlede jaar het die skool se Graad 10's ‘n 70%-slaagsyfer behaal. Sodoende was die skool die nommer een presteerder in die Okakarara-kiesafdeling en nommer vyf in die Otjizondjupa-streek.
Mujeu sê hulle was beïndruk met St. Boniface se prestasie.
“Ons het besluit om saam met die skoolhoof te kom sodat ons die skool as maatstaf vir akademiese prestasie kan gebruik,” het hy gesê.
Volgens hom sou dit ook tot voordeel van die wyer gemeenskap wees indien hulle onderwysers van ander skole by die besoek kon insluit.
Die afvaardiging het twee dae by St. Boniface deurgebring en metodes bestudeer wat daar gebruik word, sodat dit by hul eie skole geïmplementeer kan word.
Tjakuva het namens die ander onderwysers gesê die besoek aan St. Boniface was uiters leersaam. Hy sê die skool het ‘n kultuur van hardwerkendheid en is daarop gefokus om die beste resultate te behaal.
“Die skool wil duidelik die posisie as die bes presterende skool in die land behou. Ons het totale toewyding by sowel die onderwysers as leerders waargeneem,” het hy gesê.
Nadat dit onder GDVN se aandag gekom het dat St. Boniface nie oor genoeg handboeke beskik nie, het die onderneming handboeke ter waarde van N$30 000 aan die skool geskenk.
Die skoolhoof van St. Boniface Kollege, me. Mary Phillis Yesudasan, het gesê sy waardeer die besoeke van ander skole en dit motiveer hulle om nog harder te werk en beter as ooit te presteer.
St. Boniface Kollege het in 2015 die beste van al die privaatskole in die land gevaar, ‘n posisie wat dit die afgelope agt jaar hou. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer