Onderwyser verkrag glo seun
Onderwyser verkrag glo seun

Onderwyser verkrag glo seun

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

’n Hoërskoolonderwyser wat in 2013 van die verkragting van ’n 17-jarige seun aangekla is, het glo Woensdag nóg ’n seun by dieselfde skool verkrag.

Die slagoffer het glo verlede jaar al by ’n voorligtingsonderwyseres oor dié onderwyser gekla, maar dadels het daarvan gekom.

Bekommerde ouers het gister aan Republikein gesê die stelsel het die 19-jarige leerling gefaal en meen hierdie verkragting kon verhoed word.

“Hoeveel ander kinders was in die afgelope agt jaar slagoffers van hierdie onderwyser?” vra ’n ouer.

“Al wat agt jaar gelede gebeur het, is dat die onderwyser uit die koshuis geskop is, maar hy loop nog as ’n vry man rond en is nog by dieselfde skool.”

Die seun is glo Woensdagoggend gedurende pouse in die gimnasium verkrag waarheen “hy deur die onderwyser gelok is om te help stoele regpak,” sê ’n ouer.

Volgens die ouer het die skoolhoof die slagoffer daarna na die Namibiese polisie se ondersoekeenheid vir geslagsgeweld geneem.

Polisiebeamptes was ook glo Woensdag by die skool om ondersoek in te stel. Volgens ’n ouer het die seun Woensdagaand berading ontvang en sou gister ’n maatskaplike werker sien.

“’n Kliniese sielkundige het die slagoffer onder haar vlerk geneem,” het die ouer gesê.

Die skoolhoof wou nie gister kommentaar lewer nie, maar het bevestig hy het die saak by die inspekteur van die Khomasstreek in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur aangemeld.

Die waarnemende onderwysdirekteur in die Khomasstreek, mnr. Paulus Lewin, het ook bevestig die inspekteur het gisteroggend die voorval aan hom rapporteer.

“Ek wag vir die verslag. Ek het reeds met die skoolhoof gepraat en hy het gedoen wat gedoen moes word,” het Lewin gesê.

“Die leerling is na die ondersoekeenheid vir geslagsgeweld geneem, ’n HIV-toets is gedoen, die polisie was daar om hul ondersoek te doen en die skool sou ’n verklaring van die onderwyser kry.”

Lewin sê omdat die leerling 19 jaar oud is, sal hy self ’n klag by die polisie aanhangig moet maak.

“Die skool kan weens sy ouderdom nie ’n klag aanhangig maak nie. Sodra ek die verslag ontvang, sal my kantoor dadelik optree en die direktoraat sal ’n interne ondersoek van stapel stuur,” het Lewin gesê.

“Vanaf my kantoor sal die ondersoek na die uitvoerende direkteur gaan en die prosesse sal gevolg word soos in ’n dissiplinêre verhoor.”

Lewin sê die gereg moet sy gang gaan, “maar my kantoor is ten volle toegewyd om die vrot appels uit die stelsel te kry. Ons wil skoonmaak”.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer