Onderwyser slaan glo leerling se kakebeen af
Onderwyser slaan glo leerling se kakebeen af

Onderwyser slaan glo leerling se kakebeen af

’n Klag van aanranding is dieselfde dag teen ’n onderwyser ingedien.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Agt maande nadat ’n hoërskoolonderwyser na bewering ’n leerling se kaak afgeslaan het, is die ondersoek na die voorval uiteindelik voltooi.
Die voorval het verlede jaar in Julie gebeur toe ’n graad 11-koshuisleerling van Windhoek Hoërskool glo deur ’n onderwyser geslaan is wat ook in die koshuis woon. Die onderwyser woon steeds in die koshuis. ’n Klag van aanranding is ook teen die onderwyser ingedien.
Volgens die waarnemende direkteur vir onderwys in Khomas, mnr. Paulus Lewin, is die ondersoek na die voorval uiteindelik afgehandel en sal die bevindings na die departement vir menslike hulpbronne aangestuur word om die proses vir ’n dissiplinêre verhoor vir wangedrag te begin.
“Die proses sal sy volle gang gaan. Dit sluit in dat die finale aanbeveling ná afloop van die verhoor deur die uitvoerende direkteur in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur gemaak word,” het Lewin gesê.
Volgens die seun se ma moes haar seun se kakebeen “aangewerk” word en is hy geweldig deur die voorval getraumatiseer.
“My seun het my die oggend in trane gebel en gesê sy mond is baie seer nadat die onderwyser hom geslaan het,” het sy vertel.
’n Klag van aanranding is dieselfde dag by die Klein Windhoek-polisiekantoor teen die betrokke onderwyser ingedien, terwyl die skool self ook ondersoek na die voorval ingestel en volgens die ma “beloof het om hul kant te bring”.
Volgens haar het X-strale getoon haar seun se kakebeen is gekraak en dit moet “met ysters geheg” word.
“Die operasie moes onmiddellik gedoen word. Ons het net regeringsmedies en moet self betaal en dan terugeis. Ons moes daardie dag N$16 000 gaan vra en soek sodat hy die volgende dag geopereer kon word,” vertel die seun se ma.
Volgens haar het die onderwyser ook ’n saak van aanranding teen haar seun geopen. Sy vertel die onderwyser het haar seun glo daarvan beskuldig dat hy melk gesteel het.
“Hy het hom van agter af gepluk en gesê hy moet die melk in sy sak gee. Hy het hom rondgeruk en gepluk, maar die melk is later by ’n ander seun gekry.”
Sy erken die familie is bitter ongelukkig dat die saak so lank sloer en dat haar seun saam met dieselfde onderwyser in die koshuis is.
“Dit is baie hartseer. Hy (die onderwyser) wat ouer is, slaan ’n kind se kakebeen af; hoe werk dit? Hy sal in die graf moet gaan met die ysters.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer