Onderwysbeursie wek kommer
Onderwysbeursie wek kommer

Onderwysbeursie wek kommer

’Om in onderrig te belê, is van die uiterste belang.’
Augetto Graig
Augetto Graig - Die feit dat die nasionale begroting vir onderwys met ’n derde gesny is, is kommerwekkend.

Die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF) het verlede week hieroor aan die regering en die land se twee onderwysministeries geskryf.

Volgens mnr. Elia Shikongo, president van die NEF, wil werkgewers en Namibiërs in die algemeen graag sien dat die begroting vir onderwys terugkeer na wat dit in 2016 was - dit sluit ook die jaarlikse verhoging van 10% in.

Shikongo vra die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, asook die ministerie van onderwys, kuns en kultuur om dié versoek met die hoogste besluitnemers in die land op te neem.

"As ons die onderwysbegroting met ’n derde verminder, hoe kan ons verwag om die doelwitte van Visie 2030 of van die Harambee-welvaartsplan te bereik?” het hy gevra.

Om in onderwys te belê, is van die uiterste belang in terme van pogings tot ontwikkeling soos in Visie 2030 en die Harambee-welvaartsplan uiteengesit, het Shikongo gesê.

Hy sê werkgewers is deeglik bewus van die huidige ekonomiese situasie in die land, maar as die finansiering van opvoeding nie voorkeur geniet nie, sal als wat bereik is, ongedaan wees.

Volgens Shikongo is daar oor die jare baie klagtes in die openbare en private sektor oor die gehalte en doeltreffendheid van Namibië se onderwysstelsel.

Enige poging om die onderwysstelsel te verbeter, kan net werk as die nodige geld beskikbaar gestel word, het hy gesê.

Shikongo sê die ontwikkeling van die mense van enige land is soos om 'n huis te bou: As die fondament nie sterk is nie (primêre onderwys), en die mure is krom en ongelyk (sekondêre onderwys), is die kanse dat die huis ’n sterk wind of reën sal oorleef, erg beperk.

“Só is dit met ons nasie - ’n arm en swak primêre onderwysstelsel sal sekondêre onderwys nie kan ondersteun nie, om nie te praat van die tersiêre dak en balke en die ingenieurs en rekenmeesters nie,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer