Onderwys - Vraag en aanbod
Onderwys - Vraag en aanbod

Onderwys - Vraag en aanbod

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - Toelating tot skole blyk ‘n probleem aan die begin van elke akademiese jaar te wees.

Die populêre beskuldiging wat gereeld rondgeslinger word, is dat die staat nie die nodige fondse het om in toenemende behoeftes te voorsien nie. Soms word ouers daarvan beskuldig dat hulle versuim het om hul kinders betyds te registreer.

Die ministerie gooi wal vir die vale en die ouers staan geduldig in lang rye in die Januarie-son. Die kinders moet in die skool kom; hulle moet leer lees en skryf en ‘n bietjie wiskunde baasraak.

Volgens die Grondwet moet die staat, in ruil vir ouers se plig om hul kinders in die skool te kry, redelike fasiliteite vir onderwys voorsien. Met die woord "redelik" moet versigtig omgegaan word. Dit beteken beslis nie luuks nie en die staat kan nie in elke denkbare behoefte voorsien nie. Kleiner skole kan net so goed oor die weg kom met mobiele laboratoria en mobiele biblioteke.

Die staat het al monumentale werk verrig, maar tekorte duur voort. Die vraag na onderwys oortref nog altyd die aanbod.

Die inskrywingskoers is die koers waarteen leerlinge jaarliks in die skool opgeneem word. Naas die nuwe leerlinge word aanvraag ook bepaal deur die uitval- en herhalingskoerse.

Die aanvraag by ‘n spesifieke skool word ook beïnvloed deur die kwaliteit van bestuur en onderrig by daardie skool. Baie ouers van die Suide, wie dit kan bekostig, registreer deesdae hul kinders by sogenaamde goeie skole in Windhoek vanweë ‘n gebrek aan vertroue in skole hier.

Die konstruksiekoers is die koers waarteen die staat jaarliks klaskamers oprig om in die behoefte na onderwys te voorsien. Ons huidige probleem is die groot gaping tussen die inskrywingskoers en die konstruksiekoers. Dit sal uiters moeilik wees om vraag en aanbod te versoen solank die situasie onveranderd bly.

Daar is natuurlik ‘n paar oplossings. Eerstens kan bestaande ruimtes meer koste-effektief gebruik word deur die skep van groter klas- en vakgroepe. Hierdie strategie maan om versigtigheid. Ouer en ervare onderwysers sal moontlik groter klasse kan hanteer, maar jonger leerkragte mag kleitrap.

Tweedens kan bykomende klaskamerruimte tot die bestaande gevoeg word. Min skole beskik egter oor die vermoë om nuwe klaskamers op te rig en die staat het eenvoudig nie voldoende geld om dit te doen nie.

Daar is wel skole wat oor hierdie vermoë beskik. Gemeenskappe in die Noorde was in die verlede gedwing om dit te doen, terwyl skole in die Suide liewers fokus op skoolsale en fasiliteite wat die staat nie voorsien nie. Die Suide het bewys dat skenkersgeld beskikbaar is vir sulke projekte.

‘n Oplossing wat deesdae nie meer so baie gebruik word nie, is die huur van fasiliteite. Kerke en privaat instansies op baie dorpe beskik oor fasiliteite wat in onbruik staan en wat deur die staat gehuur kan word. Die huur moet redelik wees en die verhuurder kan ook kontraktueel verplig word om geriewe in ‘n goeie toestand te hou.

Dubbelskofskole, die sogenaamde peletonskole, is reeds 'n plaaslike gebruik. Hier word geriewe vanaf soggens vroeg tot laat middag gebruik. In Namibië en Suid-Afrika word die stelsel meestal gebruik in laerskole waar kritieke behoeftes bestaan. Die skool kan besluit watter fases of grade word vir die middag gereserveer terwyl die staat kan besluit hoe onderwysers aangewend word.

‘n Variasie hierop is om dieselfde skoolgebou vir twee geregistreerde skole te gebruik. Die twee skole word onafhanklik van mekaar bestuur.

Laastens kan leerlinge geplaas word by skole in ‘n dorp of streek waar daar nog ruimte is. Hierdie strategie benodig egter ‘n rasionaliseringsplan.

Die lysie is nie uitgeput nie en geen van die modelle is sonder uitdagings nie.

Die realiteit is dat die gaping tussen die inskrywings- en konstruksiekoerse nie kleiner word nie. Die grondwetlike belofte van die staat bly onveranderd en befondsing toon nie 'n opwaartse kurwe nie. Die implementering van watter model ookal vereis inisiatief, kreatiwiteit, bestuursvernuf, daadwerklike optrede en ‘n tikkie bestuursavontuurlustigheid.

(Ek dra hierdie aflewering op aan ‘n dierbare vriend wat verlede Vrydag die lewe gelaat het. Hy was ‘n medeonderwyser en skoolhoof op my grootworddorp. Hy was strooijonker op my troudag. Ek sal hom mis.)

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer