Onderwys - Voordele van peletonskole
Onderwys - Voordele van peletonskole

Onderwys - Voordele van peletonskole

Dani Booysen
Die Covid-19-pandemie berokken ons onderwysstelsel en ons skole nog steeds groot skade.

Met die inspan van aanlynvorme van onderrig vir tuisonderrig was die keuse vir baie ouers en leerlinge, weens die ongelyke in ons land en in onderwys, een tussen brood of data; eintlik ‘n voorbeeld van Hobson se keuse. Hobson se keuse verwys na 'n sogenaamde vrye keuse terwyl daar eintlik net een opsie is, amper soos in alles of niks.

Onderwysgemeenskappe moet besef baie onderrigtyd het verlore gegaan en die verlies is vererger waar leerlinge toegelaat is om net op sekere dae skool toe te gaan.

Navorsers werk onverpoos aan die ontwikkeling van ‘n entstof, maar die lande waar hierdie navorsing plaasvind, sal dit vir seker eers aan hul eie burgers voorsien. Inenting teen Covid-19 gaan nie hier gou al ons probleme kom oplos nie.

In 2021 sal ons steeds verlies aan onderrigtyd so ver as moontlik moet beperk. Die uitdaging kan, soos tevore genoem, met 'n redelike mate van sukses deur die dubbelskof- of peletonstelsel (double-shift/multiple-shift/platoon system) aangespreek word.

Die dubbelskofmodel word aangewend om inskrywingskoerse aan te pas by die tempo waarteen nuwe klaskamers en skole gebou kan word. Leerlinge word in twee groepe verdeel wat op verskillende tye van die dag skool gaan.

Die voortsetting van hierdie model in Namibië het dit na onafhanklikheid moontlik gemaak om ruimte vir meer as 23 800 leerlinge te skep (Form Ed: 17/97 van Oktober 1997). Hierdie model, indien effektief bestuur, sal die eenheidskoste per leerling betekenisvol verminder. Navorsing wys dit is onwaarskynlik dat die dubbelskofskool swakker as 'n tradisionele enkelskofskool sal vaar.

Hierdie model se groot waarde lê daarin dat dit billikheid en sosiale geregtigheid bevorder. Dit is egter die paradoksale aard daarvan wat skoolgemeenskappe afskrik - spesifiek waar dit swak bestuur word en ongelykhede bevorder.

Die dubbelskof- of peletonmodel is nie ‘n skepping van die apartheidsregime soos baie mense dink nie. Dit is die resultaat van aanpassings tot die Platoon School van William Wirtz, 'n onderwyssuperintendent van Gary in die deelstaat Indiana in die VSA.

Volgens die oorspronklike stelsel het Wirtz die skoolfasiliteite in twee verdeel: een deel vir akademiese vakke en die ander vir kuns, kultuur en sport. Die leerlingbevolking is ook in twee groepe gedeel en elke groep het al om die ander week onderrig gekry in die akademiese en nie-eksamenvakke.

Aanpassings van die benadering het in ontwikkelde sowel as onontwikkelde lande byval gevind. Dit is in die VSA, Suid-Amerika, Afrika en die Ooste toegepas. Die geskiedenis verhaal dat die Duitsers dit ook in ten minste een area gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangewend het.

Via die Departement van Indiese Onderwys in Suid-Afrika het die model sy weg na ander polities benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika en die ou Suidwes-Afrika gevind. Vir die apartheidsregering was dit die ideale model om “bantu-onderwys” met diskriminerende begrotings te voorsien.

Ongelukkig het die meeste lande waar die stelsel ingespan is die peletonskool ‘n slegte naam gegee. Dit is aangewend om toegang tot onderwys aan arm gemeenskappe te voorsien. Tog is ek oortuig dit is op die oomblik die beste model om verliese aan onderrigtyd hok te slaan. As dit reg bestuur word, sal dit beslis die uitkoms wees.

(Gebaseer op my mini-tesis, “The implementation and organization of the Multiple-Shift School in Namibia”, my ondersoek in Uganda sowel as gepubliseerde artikels oor die onderwerp.)

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer