Onderwys - Vlot klasse oral
Onderwys - Vlot klasse oral

Onderwys - Vlot klasse oral

Covid-19 woed voort en die siekte diskrimineer nie. Al hoe meer huisgesinne en vriendskapsbande word geraak.

Die prentjie lyk nie mooi nie. Ek het verlede week kennis ontvang dat 'n vriend en ou skoolmaat ook positief getoets het.

Onderrig en leer moet ongelukkig ondanks die verwikkelinge en onsekere tye voortgaan. Dit lyk of baie ouers besluit het om wel hul kinders terug skool toe te stuur.

Senior sekondêre leerlinge is al geruime tyd terug in die klaskamer. Hulle is verlede gevolg deur die junior primêre fase en volgende week kom die graad 7's en 9's aan die beurt. Die laaste skoolgroepe moet op 3 Augustus inval.

Dit wil in die stadium of die geskeduleerde hervatting van klasse goed verloop, maar uit gesprekke blyk dit sommige ouers koester steeds vrese.

Vir hierdie rubriek het ek gesels met 'n onderwyseres by een van die junior sekondêre skole in die //Kharasstreek. Sy het 'n dogter in een van Windhoek se vooraanstaande skole en twee jonger kinders verbonde aan 'n plaaslike primêre skool.

Gedurende die vorige fase van inperking het die skool goeie kontak en kommunikasie met leerlinge gehandhaaf. WhatsApp-groepe is gestig en leerlinge is van nuwe sillabusmateriaal en opdragte voorsien. Baie van die leerlinge wat nie slimfone het nie, is deur ander klasmaats gehelp.

Ongelukkig was daar weinig terugvoering en dus geen monitering en evaluering van antwoorde op vrae en opdragte nie. Dit is verstaanbaar dat ander grade nie hieroor ingelig sal word nie, maar die stilte bly onrusbarend.

Die Covid-19-protokol word getrou toegepas. Die skool word bygestaan deur gesondheidwerkers en enige verdagte gevalle sal onmiddellik vir toetsing verwys word.

Daar sal van die gewone bevorderingsvereistes vir die interne eksamens afgewyk word en leerplanne sal dienooreenkomstig verskraal word. Dele van sillabusse wat met die van volgende jaar oorvleuel, sal nie hierdie jaar aandag kry nie. Dit lyk ook of van die grade nie 'n interne eksamen gaan aflê nie.

Tans is daar genoeg ruimte vir sosiale afstand, maar wanneer ander graadgroepe terugkeer, sal dit moeiliker raak. Moontlikhede is om leerlinge in groepe op te deel wat op alternatiewe dae skool bywoon of dubbelskofklasse. Die eerste opsie sal egter nog onderrig- en leertyd inboet, terwyl dubbelskofte veranderings aan die rooster en bykomende bronne mag verg.

Vir die dogter wat 'n ingeskrewe leerling aan 'n skool in Windhoek is, voel die inperking nie te erg nie. Leerlinge ontvang gedurig opdragte en sy is heeldag aanlyn besig.

Sy is 'n bietjie bang, maar wil graag teruggaan skool toe en sy verlang na haar maats. Haar sussie, in graad 0, wil ook graag terug skool toe gaan. Die ouers berei hom voor daarop, maar hy begryp nie mooi hoekom hy nie mag speel of sy maats aanraak nie.

Gedurende hierdie deel van my reis deur die onderwyslandskap het ek gepraat met ouers uit die hoërinkomstegroep met kinders by van die beter skole. My indruk is voorsorgmaatrëels word getrou toegepas en ouers kan meer gerus wees.

Ek is egter nie oortuig alle leerlinge sal die vaardighede ontwikkel wat nodig is om na die volgende graad te vorder nie. Dit bly aan my knaag of owerhede se besluite werklik goed ingelig was.

Kwaliteitonderwys sal eerste struikel in hierdie stryd.

In die volgende aflewering kom ouers en leerlinge uit die lae-inkomstesegment se indrukke aan die beurt.

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer